General

Nuwe korporatiewe identiteit vir Toyota Suid-Afrika

Toyota Suid-Afrika het ‘n nuwe korporatiewe identiteit vir al sy korporatiewe en kleinhandelsbedrywighede aangekondig.
Die nuwe KI weerspieël die jongste korporatiewe Toyota-merkgewing wat in verskeie oorsese markte gebruik word. Die nuwe korporatiewe identiteit spog met ‘n driedimensionele chroomtipe logo, met die Toyota-naam in rooi daaronder. Die hoofrede vir die verandering is om die maatskappy se leiersposisie ten opsigte van tegnologie en beeld te weerspieël.
“Met die bekendstelling van die nuwe Hilux het Toyota Suid-Afrika ‘n volgeïntegreerde posisie binne die globale verskaffingsnetwerk van die Toyota-Motorkorporasie verkry, en ons het besluit die tyd het aangebreek om ons korporatiewe identiteit te verfris,” sê Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika.
“Die laaste keer dat ons so ‘n groot verandering aan ons KI aangebring het, was in 1995 toe ons ons vorige, unieke hingslogo met die internasionale embleem bestaande uit drie geïntegreerde ellipse vervang het. Ons korporatiewe persele sowel as dié van al die Toyota-handelaars in die land sal oor die volgende twaalf maande met die nuwe korporatiewe identiteit toegerus word.
“Die nuwe KI sal deurgetrek word tot alle elemente van ons besigheid, nie net die letterwerk op geboue nie. Dit sal byvoorbeeld ook verskyn op al ons skryfbehoeftes, advertensies en dies meer.”