Loesing vir Mogol met Ben Alberts Rugbydag
Jan Engelbrecht
THABAZIMBI – Saterdag was daar soos gewoonlik oorlog tussen die rugbyklubs van Mogol en Thabazimbi tydens die Ben Alberts Rugbydag wat op Thaba aangebied is. Hierdie keer was Mogol aan die ontvang kant en hulle sluk steeds swaar aan die loesing wat hulle nie verwag het nie, met beide die eerste- en tweedespanne wat nie die mas teen Thaba kon opkom nie.
Vanaf die afskop van mnr Ben Alberts, wat sedert die instelling van hierdie rugbydag seker nie een keer die dag se spel gemis het nie, het Thaba die pap dik aangemaak en vroeg in die eerste helfte met 17-0 voorgeloop. Net jammer Thaba het toe gaan slap lê, want net daarna het Mogol teruggeslaan met twee drieë, wat ook die telbord teen halftyd op 17-14 bring. Ná lemoentyd het Thaba beheer oorgeneem en in Mogol se helfte kamp opgeslaan. Hulle het nog vier drieë aangeteken wat die eindtelling op 41-14 gebring het. Sover vasgestel is dit die grootste drag slae wat Mogol nog van Thaba ontvang het.
Spelers wat weereens uitgeblink het was die twee Greeff broers, Nico en Deon, en dan natuurlik daardie man Eric Mdyogolo. Daar is net nie ‘n plaasvervanger vir spoed nie en dié drie is baie gevaarlik as hulle aan die hardloop gaan. Die twee senters, Hannes de Villiers en Nico du Plessis, het die bal baie goed versprei en skep baie kanse vir die agterste driehoek gebied. Jeremy Fernandes was weer man van die wedstryd en hy het dit verdien. Die skrumskakel, James Engelbrecht, het gewys watter sterk derduiwel hy is toe hy vir ‘n kragdrie in die hoekie oorgeval het.
Die grondslag vir Thaba se oorwinning het egter by die twee voorryspelers, Hannes Scheepers en Jannie Lotter, begin wat hulle eweknieë van Mogol flou geskrum het. Kobus Baard het soos gewoonlik sy harde ongenaakbare wedstryd gespeel. Die twee flanke, Piet Engelbrecht en Willem van der Nest, het die bal soos twee Boelterriërs gejaag en Mogol het net nie antwoord gehad vir hulle nie. Die twee slotte en agsteman het weereens gewys hoekom Thaba hierdie jaar sy teenstaanders uit die pad vee. Hulle hardloop gewoonweg oor ‘n man as hy in hulle pad kom.
Puntemakers aan Thaba se kant met drieë was Nico Greeff (2), Eric Mdyogolo, James Engelbrecht, Piet Engelbrecht, Deon Greeff en Nico du Plessis. Jeremy Fernandes slaag met drie doelskoppe.
Die tweedespan het eintlik nie volgens potensiaal gespeel nie en alhoewel hulle gebiedsvoordeel oorheers het kon hulle dit nie regtig in punte omskep nie. Dit is ook die rede hoekom hulle teen halftyd 3-7 agtergeloop het.
Ná halftyd het dit beter gegaan en Thaba het twee keer agter die doellyn van Mogol gaan kuier. Die groot voorryspeler, Brian Mali, was aangewys as die man van die wedstryd. Ter versagting moet mens seker sê dat die skeidsregter dit ook nie juis maklik vir Thaba gemaak het nie, want baie van sy beslissings het definitief die wenkbroue laat optel. Thaba het die Mogol met 15-7 geklop.
Puntemakers aan Thaba se kant was Rudi Grobler met twee drieë en ‘n straf- en doelskop deur Cobus Snyman.
Hierdie Saterdag speel Thaba nie, maar volgende week is dit die moeilike span van Warmbad aan die beurt op hulle veld.