Entertainment

Bosveld Musiekfees om die draai

POTGIETERSRUS – Die Bosveld Musiekfees wat in Potgietersrus plaasvind op 3 en 4 Junie, beloof om aan die liefhebber van Afrikaanse musiek die een geleentheid te bied waar hy na hartelus sy musiek kan geniet.
Die fees skop reeds Vrydag om 10:00 af met ‘n verskeidenheid van uitstallers wat hul produkte sal ten toon stel. Die musiek gedeelte van die fees begin Vrydagmiddag om 13:00 wanneer ‘n aantal opkomende kunstenaars die kans kry om hulself bekend te stel. Hierdie kunstenaars sal optree tot ongeveer 17:30.
Die jong damesgroep Shine-4 wat pas ook te siene was op “7de Laan” en bekend is as ons eie “Spice Girls” neem daarna oor met ‘n gedeelte van hul vertoning. Hulle word opgevolg deur die “Roer en rumoer” vertoning van Wynand Strydom, Jennifer Zamudio en Rudi Muller, wat ‘n groot sukses was by die KKNK en deur resensente beskryf word as ‘puik’. Hierna lewer Shine-4 die res van hul vertoning en sluit die plaaslike groep TWAK die aand af.
Saterdagoggend open die hekke reeds om 08:00. Die musiekvertoning word skuins voor 11:00 ingelei deur Ettienne Potgieter wat in die Potgietersrus omgewing welbekend is. Hierdie sal net die begin wees van ‘n uiters genotvolle dag wat besoekers vir lank nog sal bybly. Die volgende kunstenaars sal ook optree: Zak van Niekerk (12:00 tot 13:00), Helené Bester (13:15 tot 14:15), Mel Botes (14:30 tot 16:00), Pieter Smith (16:15 tot 17:15), Hi-5 (17:30 tot 19:00), Kurt Darren (19:30 tot 20:45) en Die Campbells (21:00 tot 22:00).
Pieter Koen, veldaanbieder van Kwêla, tree weereens tussendeur op as aankondiger en sal ook sy eie musiek maak. Besoekers word versoek om hul eie stoele, komberse en dies meer saam te bring aangesien daar nie sitplekke beskikbaar gestel word nie. Piekniekmandjies en koelhouers word nie verder as die hek toegelaat nie.
Die Bosveld Musiekfees vind slegs eenmaal per jaar plaas en moet nie misgeloop word nie. Kom hoor gerus hoe klink Afrikaanse musiek teen 31000 watt!