Vandalisme by dorpswembad
THABAZIMBI – Die opsigter en bestuur van die Thabazimbi dorpswembad is raadop met vandaliste wat voordurend voorwerpe in die swembad gooi. Volgens die opsigter slaan die vandaliste al hoe meer gereeld toe en blyk dit of hulle veral ‘n voorliefde vir Sondagaande het. Die afgelope Maandagoggend was daar weer deksels en tydskrifte in die swembad gevind.
Hierdie vandalisme duur al ‘n geruime tyd en die bestuur het pas die saak by die polisie gerapporteer en speurders het reeds die perseel besoek. Op vorige geleenthede is grond, klippe, takke, blare, deksels, papiere en dies meer in die swembad gestrooi. Daar is ook ‘n paneel uit die betonmuur geskop wat dit vir hierdie vandaliste maklik maak om die perseel ongehinderd te betree en wat hulle ook nou toegang tot Kumba se perseel verleen.
Hierdie opruimingswerk het die bestuur al ‘n groot gat in die sak gejaag aangesien dit ‘n dilemma is om die grond weer uit die swembad te verwyder. Daar is nou ‘n ernstige waarskuwing aan die skuldiges gerig dat alle oortreders vervolg gaan word en geen vandalisme verder geduld sal word nie.