Thabazimbi Wild en Toerisme Expo 2005 – Die Bosveld Ervaring!
Dit is ironies om te dink dat daar slegs ‘n paar weke gelede ‘n kookwater fees in Thabazimbi plaasgevind het… Die sommetjies is gemaak en die syfers is bevestig. Die Thabazimbi Expo 2005 is vanaf 29 April tot 2 Mei deur ongeveer 23 800 persone bygewoon met ‘n rekordsyfer van 12 775 persone deur die hekke op Saterdag die 30 April. Let wel: Hierdie syfer sluit nie die 200 uitstallers, kunstenaars, verhoog- en klankbemanning, aktiwiteitspersoneel, media, stadsraad amptenare of organiseerders in nie. Een ding is vir seker, die feesterrein het gewemel en Warmbadweg het getuig van die GP registrasienommers wat besluit het om spoor te sny na die hartjie van die Bosveld. Volgens me Tanya Veldman, organiseerder, is die Expo Komitee baie gelukkig met die opkoms tydens vanjaar se fees en het hul nog net positiewe terugvoer vanaf die uitstallers, kunstenaars en publiek ontvang. Vanjaar se Expo het ook vir die eerste keer in jare oor ‘n langnaweek plaasgevind en het vir seker meer persone van die stad vir ‘n langer periode gelok. Die Sondagprogram was ‘n reuse sukses en ‘n waardevolle toevoeging tot die fees en vir die gemeenskap. Vanuit ‘n toerisme oogpunt sal ‘n mens net kan skat wat die randwaarde is wat gekoppel kan word aan die Thabazimbi Expo, aangesien die Expo beslis ‘n baie belangrike bousteen is in die posisiebepaling en bemarking van Thabazimbi as ‘n toerisme destinasie. Me Veldman het wel baie klem daarop gelê dat daar huidig baie aandag gegee word aan die tekortkominge tydens vanjaar se Expo om te verseker dat daarop verbeter sal word in 2006 en om die uitbreiding van die fees te akkommodeer. Volgens die Thabazimbi Munisipaliteit en me Veldman was vanjaar se verbeterings slegs die begin van ‘n hele nuwe era van “Wildsfees” hou. Dit beteken ook dat die hele dorp, besighede, lodge eienaars ensovoorts hulle self moet rat om die groter hoeveelhede feesgangers te kan akkommodeer en te verseker dat hulle voorkeur in die Thabazimbi Bosveld sal bly.