General

Lewende Woord hou ná dekade weer basaar

SWARTKLIP – Die Lewende Woord Sentrum hou na ‘n afwesigheid van 10 jaar, weer basaar. Daar word Vrydag 27 Mei om 16:30 in die kerkgebou afgeskop met ‘n filmvertoning vir die jongspan en weer ‘n vertoning om 19:00 vir die tienergenerasie. Toegang beloop R5 per persoon en elkeen ontvang dan ‘n gratis pakkie springmielies. Daar sal ook koeldrank en lekkergoed deur die jeugsnoepie aangebied word.
Die amptelike opening sal Saterdagoggend 28 Mei om 09:00 deur pastoor Arthur en sy gade, Miranda Odendaal waargeneem word. ‘n Dag vol musiek, hope pret en tonne te eet wag hierna op basaar besoekers. Knuppeldik gaan sorg vir vetkoeke, pannekoeke en kerrie en rys en daar sal ook biltong en droëwors, warmbrakke, skaapbraai en vele meer te koop wees.’n Teetuin gaan vir die soettande ‘n groot verrassing inhou met heerlike gebak wat voorgesit gaan word.
Vir geesdriftige motorrenjaers, gaan daar ‘n “Formule Een motorwedren” aangebied word. Deelnemers moet hul eie voertuie (afstand beheerde motors) bring en kom wys wat in hulle steek. Daar is ook skyfskiet, perdry en donkiekarritte op die agenda.
Quad motorfietse gaan uitgestal word en vir dié wat aan wedrenne wil deelneem, sal daar ‘n 15 kilometer baan beskikbaar wees (en ‘n korter een vir die minder brawe ouens). Persone moet hul eie vierwiel bring vir die ritte. Daar sal ook ‘n roete vir die jongspan wees (die een waaraan die pa’s natuurlik nié mag deelneem nié!).
Met ‘n groente- en blommestalletjie, kan die ouens wat met moedersdag die verskoning gehad het dat “al die blomme uitverkoop was”, die sakie regstel en die vrou in jou lewe bederf met die grootste bos vars blomme ooit.
‘n Geestelike stalletjie met boeke, tydskrifte, CD’s en kassette sal in almal se geestelike smaak val. Daar sal ook deur die dag versoeke uitgesaai word deur hul eie Lewende Woord Radio-in-Aksie stasie.
Die basaar word Saterdagmiddag afgesluit met ‘n potjiekoskompetisie en beoordeling gaan 16:30 plaasvind. Bespreek vroegtydig jou plek by (014) 786 0565 (van 09:00 tot 12:00) of by 083 292 0170 en (014) 786 0219.