Klip van brug beskadig vrou se oog
THABAZIMBI – ‘n Klip wat na bewering van die treinbrug, naby BP Een stop, na ‘n motor gegooi is, het daartoe gelei dat me Benette van Aarde (24) se oog ernstig beseer is. Die voorval het verlede Vrydagaand om 23:00 plaasgevind nadat Van Aarde onderweg was huistoe.
Van Aarde sê sy het net ‘n harde slag gehoor en haar Opel Corsa se linker voorruit het aan skerwe gespat. Die glassplinters het in haar oog geskiet. Sy het tot by die vulstasie naby Pick ‘n Pay gejaag en haar broer, Bennie van Aarde gekontak vir hulp. Haar broer en sy vriend was gou op die toneel en het na die treinbrug gehardloop waar hulle ‘n tiener seun vasgetrek het. Die ander het op die vlug geslaan.
Na wat berig word, het die polisie reeds vyf verdagtes positief verbind met die voorval. Twee van hierdie verdagtes was reeds voorheen vir ondervraging na die ruite verlede jaar by Delta uitgegooi was. Van hierdie vyf verdagtes, is vier hoërskoolseuns en een seun is ‘n skoolverlater.
Van Aarde is kort na die voorval na die hospitaal geneem om die glasstukke uit haar oog te probeer verwyder. Sy was die afgelope Woensdag na Rustenburg geneem waar ‘n oogspesialis haar sou ondersoek aangesien daar steeds glassplinters in haar oog is.
Die skade aan Van Aarde se voorruit beloop R700.