Thaba klop Marble Hall maklik
Jan Engelbrecht
THABAZIMBI – Thaba het Saterdag teen Marble Hall ‘n vriendskaplike wedstryd op hulle veld gaan speel en redelik maklik gewen.
Marble Hall, wat hierdie jaar vir die eerste keer in baie jare weer ‘n rugbyspan het, sal van volgende jaar af in die Waterbergliga meeding. Daar is ‘n klomp gewillige jong spelers en as almal by die klub bly dan sal die Waterberg daarby kan baat, want dan is daar meer spanne in die liga. Wat ‘n mens verbly het is die spontane wyse waarop Marble Hall se mense Thaba se vleuel, Eric Mdyogolo, toegejuig het toe hy soos ‘n blits byna die lengte van die veld gehardloop het om sy drie te gaan druk het. Daarna was hy sommer Habana.
Nieteenstaande die feit dat Thaba met ‘n verswakte span gespeel het, het hulle vier drieë ingeryg. Die drie-drukkers is Kobus Oosthuisen, Eric Mdyogolo, Johan Fourie en Nico Greeff. Hardus Hermann het met twee doelskoppe geslaag.
Hierdie Saterdag word die Ben Albertsdag op Thaba aangebied. Dit is wanneer die spanne van Thabazimbi en Ellisras mekaar aanvat. Daar behoort soos gewoonlik vuurwerke te wees en goeie rugby sal aan die orde van die dag wees. Die wedstryde begin om 15:00 wanneer twee ontwikkelingspanne mekaar aanvat. Om 16:00 kom die tweedespanne aan die beurt en die hoofwedstryd, wanneer Mogol en Thaba se eerstespanne mekaar takel, is om 17:30.
Alle rugby ondersteuners en -liefhebbers van die spel word uitgenooi om die spanne te kom ondersteun.