Lekker kuier by die potjiekoskompetisie

THABAZIMBI – Net soos vorige jare het die Wildspotjiekos wat tydens die Thabazimbi Expo aangebied word, gewys dat dit die plek vir rustige gesellige kuier is. En as Bart van 7de Laan nog boonop die erebeoordelaar is, dan kuier jy eers lekker.
Gelukkig het Bart nie probeer inmeng met die gekokery nie, blykbaar is Hilda die een wat dit altyd doen. Hy het darem die deelnemers gewaarsku teen al haar soet-suur, sout-sout en al die ander mengsels, want dit kan jou gou ‘n goorpens gee.
Soos gewoonlik het die vure reeds teen 08:00 gebrand en het die spanne hulle potte aan die kook gekry.
Vanjaar se wenners was ‘n nuwe inskrywing, die Dentons en kort op hulle hakke was die dames- en manspan van die Zebras. Met ‘n lekker kuierplek so naby aan die hoofverhoog, was dit beslis die beste plek om te wees.
Pick ‘n Pay Thabazimbi was die hoofborg sover dit die pryse vir die wenners aangegaan het. ‘n Totaal van R3000 se koopbewyse was op die spel en daarby het die wenspan ‘n komplimentêre naweek vir vier persone by BJF Game Lodge gewen. Al drie die eerste plekke het ook ‘n ysterbraaipan met die komplimente van Die Kwêvoël ontvang.
Die span met die beste gees, die Voortrekkers, het vir hulself ‘n lekker naweek by Angassi Game Lodge losgeslaan. Twee lede van hierdie span asook twee lede van die wenspan, die Dentons, is aangewys om die volgende dag aan die Ready Steady Bush Cook-out, wat ook deur Pick ‘n Pay Thabazimbi geborg is, deel te neem. Pick ‘n Pay het ook tydens hierdie aanbieding die addisionele aanbieder, William Blackrose, se fooi geborg.