Potjies gaan weer roer
THABAZIMBI – Inskrywings word nou ingewag vir die jaarlikse Thabazimbi Expo Wildspotjiekoskompetisie wat Saterdag 30 April op die feesterrein aangebied word.
Hierdie gaan, net soos vorige jare, ‘n ware kuierfees wees as die spanne vanaf 08:00 die oggend begin swoeg met hulle vure en die beste potjies. Almal wat voorheen deelgeneem het weet van die lekker kuier wat daar onder die bome plaasvind terwyl vroulief (as sy nie deel van die span is nie – of manlief as sy deel van iemand anders se span is) en kinders rustig die Expo op hul eie geniet.
Dieselfde reëls as vir vorige jare geld, naamlik: Wildsvleis moet die hoofbestanddeel wees. As jy ‘n Vispot wil inskryf sal jy die beoordelaars moet oortuig dat jy self die vis in Jood se Dam gevang het. Onthou net, die beoordelaars is nie verplig om jou pot te proe as hulle nie daarvan hou nie.
Met hierdie kompetisie gaan dit meer oor wat in die pot is en nie noodwendig hoe jou stalletjie lyk nie, alhoewel dit die finale deurslag kan gee. Daar is nie spasie om “stalletjies” te bou nie en die hoofmotief is lekker saam kuier, daarom geen grense nie. Bale is gewoonlik te koop op die terrein waarmee jy so ‘n stukkie vir jouself kan afbaken. Ons hoop die weer hou. Bring maar dalk ‘n sambreel of twee saam – ons het al in die verlede die vure onder die sambrele aan die gang gehou.
Spanne moet verkieslik net uit vier lede bestaan, maar as daar ‘n skinker by is, kan uitsonderings gemaak word. Jou vriende en familie is natuurlik welkom om saam te kuier, solank hulle net hulle hande uit die pot hou.
Slegs hout of houtskool mag as brandstof gebruik word en alle disse moet in ysterpotte of tussen die kole gaargemaak word. Slegs rou produkte mag gebruik word. Daardie “standby” potbrood kan jou dalk van deelname beroof.
Goeie nuus is dat die kontinuïteits aanbieder en seremoniemeester by die Expo, Neil Sandilands (Bart van 7de Laan), tydens die kompetisie die twee beoordelaars as “standby-beoordelaar” gaan bystaan. As ‘n mens alles kon glo wat jy op die kassie sien was dit dalk nie nodig om die twee beoordelaars aan te stel nie en kon hy dalk alles self gedoen het. Dit is dalk beter om nie alles te glo nie.
Pryse vir vanjaar se Potjiekoskompetisie word deur Pick ‘n Pay Thabazimbi geborg met nog so ‘n paar verrassings ingegooi. ‘n Naweek by ‘n paar eksklusiewe lodges in die omgewing is ook nie uitgesluit nie.
Inskrywings kan by Die Kwêvoël se kantoor in Tweedelaan Thabazimbi gedoen word. Indien dit vir u moeilik is om by die kantoor uit te kom, kan u Celest by 014 777 1621 skakel. Inskrywingsfooi beloop R50 per span en is betaalbaar met bespreking. Bankinbetalings kan ook gereël word, faks net die inbetalingstrokie saam met u inskrywing deur. Daar is beperkte stalletjies, sorg dus dat u ons so gou as moontlik kontak.
Die inskrywingsgeld sluit nie die toegangsgeld wat by die hekke gehef word in nie. Alle deelnemers is dus vir hulle eie toegangsgelde verantwoordelik.