Laerskool Platina hoof verjaar!

SWARTKLIP – Meneer Servaas Loots, van Laerskool Platina verjaar op 22 Maart, in die vakansie (goeie beplanning). Servaas het dit weereens probeer stil hou, maar die leiers van Laerskool Platina het anders besluit. As daar rede is om ‘n verjaarsdag te vier, doen hul dit met oorgawe. Dit is presies wat hul gedoen het.
Al die leiers se ouers het met die mees oorspronklikste idees vorendag gekom vir die geleentheid. Vir die spesiale ontbyt is tafels aangery, blomme rangskikkings gemaak, spyskaarte opgestel en tafels kleurvol gedek. Alles was baie keurig en smaakvol voorgesit. Leerkragte het behoorlik gesmul aan al die lekker kos. So van bederf het hul lanklaas beleef, en dit nogal heel gepas aan die einde van ‘n harde kwartaal. Die leerkragte van Laerskool Platina wil net graag vir meneer Loots gelukwens en hul hoop al sy goeie wense sal waar word. Hulle het ook hul wense uitgespreek dat meneer Loots weer die jaar sal verjaar en selfs die datum kan kies. Die ouers van die leiers word ook hartlik bedank vir hul bydrae en goeie gesindheid teenoor die skool.