Thabazimbi Rugbyklub kook

THABAZIMBI – Thabazimbi Rugbyklub kook behoorlik hierdie jaar, en ander spanne moet maar op hul hoede wees. Vyf vriendskaplike wedstryde is reeds deur Thabazimbi Rugbyklub gespeel waarvan hulle vier gewen en een gelykop gespeel het. Die Waterberg liga begin reeds op 8 April, en 12 van hierdie wedstryde vind plaas op Thabazimbi Rugbyklub se tuisvelde.
Daar word ‘n beroep op die gemeenskap gedoen om hul plaaslike rygbyspelers te kom ondersteun. Saterdae kan die hele gesin kom en ‘n lekker piekniek daarvan maak, terwyl die klub terselfdertyd ondersteuning geniet.
Diegene wat nie ‘n piekniekmandjie wil pak nie, hoef nie bekommerd te wees nie, want eetgoed en koeldrank word deurentyd te koop aangebied. ‘n Kontant kroeg is ook beskikbaar vir pa om sy keel nat te hou en sommer af te koel. Na wedstryde kan ‘n vleisie op die kole gegooi word terwyl die hele gesin saam met die spelers kuier.
Die Thabazimbi Rugbyklub speel teen verskeie klubs en hul tuis wedstryde se program tot Julie is as volg: 15 April teen Vaalwater 1 en 2, 6 Mei teen Nylstroom 1 en 2, 20 Mei teen Mogol 1 en 2, 10 Junie teen Plats 1 en 2, 1 Julie teen Union 1 en 2 en 29 Julie teen Kwagga 1 en 2.