Kanker – Vroueblad
Kanker is die groot woord wat baie mense met ontsag op hulle lippe neem. Kanker was ook vroeër beskou as ‘n doodsvonnis vir die persoon wat die gevreesde siekte opgedoen het. Vandag is daar egter hulp en hoop beskikbaar namate meer navorsing oor die oorsake van kanker gedoen is.
Kansa is ‘n hulporganisasie wat van onskatbare waarde is vir mense wat die een of ander tipe kanker onder lede het. Kansa bestaan hoofsaaklik uit vrywilligers wat bereid is om tyd en moeite af te staan aan kanker pasiënte en hulle families. Elke Kansa vrywilliger word goed voorberei vir hulle taak deur middel van ‘n breedvoerige kursus met betrekking tot pasiëntsorg en hantering.
Kansa het reeds 26 Januarie hul eerste vergadering gehou, en daar is ook weer besluit om ‘n aantal fondsinsamelings projekte te loots. Fondse wat ingesamel word, word na die Rustenburgse streekskantore gestuur vir aankoop van toerusting (rolstoele, looprame, kurke, beddens ensovoorts) vir kanker pasiënte. Hierdie toerusting help die gesinne wat nie hierdie onvoorsiene uitgawes kan bekostig nie.
‘n Deel van die fondsinsamelings projek is die boekverkope wat Jenny Kemna en haar man elke Saterdag van die maand voor Thaba Spar verkoop. Hierdie poging lewer ‘n gereelde inkomste vir Kansa. ‘n Beroep word op die gemeenskap gedoen om aan Kansa bruikbare boeke te skenk, wat weer verkoop kan word om sodoende geld in te samel.
In die Thabazimbi gemeenskap is daar ‘n onrusbarende groot aantal mense wat kanker onder lede het. Indien enige Kwêvoël leser weet van iemand wat met kanker gediagnoseer is, word u vriendelik versoek om die persoon se besonderhede aan Kansa te verstrek. Kansa is daar om pasiënte te ondersteun en te help met versorging waar nodig.
Gerty Jacobs kan gekontak word by 083 454 3505.