General

Die “pluk” van ryp vrugte in die supermark – Vroueblad

Die meeste vrugte in supermarkte word vroeg gepluk om te voorkom dat hulle oorryp op die rak beland. Voordat jy weer ‘n halfryp vrug opraap, onthou die volgende:
• Sitrusvrugte, lietsjies, kersies, waatlemoen en pynappel word nooit ryper nadat hulle gepluk is nie.
• Avokadopeer word net ryp nadat hulle gepluk is (draai toe in koerantpapier en bêre op ‘n donker, droë plekkie).
• Appelkose, bloubessies, vye, grenadellas en perskes kry ‘n dieper kleur, word sagter en sappiger, maar word glad nie soeter as hulle eers gepluk is nie.
• Appels, kiwi-vrugte, mango’s, papajas en pere word soeter nadat hulle gepluk is.

Wanneer jy vrugte koop, let op na:
Kleur, geur, stingelkant en gewig.
• Kleur: maak seker dat daar geen chlorofil (groen plekkies) sigbaar is nie.
• Geur: ruik aan die bloeiselkant van die vrug, sodra die reuk kenmerkend is van die vrug sowel as sterk, kan jy dit maar inpak.
• Stingelkant: druk saggies om te voel of die vrug nie te hard is nie. Moenie kneus nie. Werk goed vir vrugte met ‘n dun skil.
• Gewig: as die vrug swaar voel in vergelyking met sy grootte, is dit ‘n goeie teken.