General

Inskrywings vir ATKV-Prosaprys ingewag

Die ATKV-Prosaprys van R23 000 word jaarliks toegeken aan die beste en gewildste Afrikaanse prosawerk wat in die voorafgaande kalenderjaar verskyn het. Met die Prosaprys word nie net goeie, gewilde prosa bekroon nie, maar word gepoog om leeslus onder die “volk” aan te wakker en dus die Afrikaanse taal in die algemeen te bevorder. Inskrywings word ingewag.
Die ATKV-Prosaprys word reeds sedert 1984 toegeken en vorige wenners sluit geliefde skrywers soos Dalene Matthee, Etienne van Heerden, Jan van Tonder, Riana Scheepers, Marita van der Vyver, Corlia Fourie, Deon Meyer en Marzanne Leroux-van der Boon in.
Die wenners word gekies deur ‘n paneel van sewe beoordelaars bestaande uit vyf ingeligte lesers, ‘n verteenwoordiger van die kommunikasiemedia en ‘n biblioteekkundige. Dié prys is bedoel vir werke wat sal byval vind by die groter leserspubliek. ‘n Lekkerlees-storie sal daarom deurslaggewend wees by beoordeling.
Gewildheid by die groter leserspubliek met hulle smaak, waardes, oortuigings en behoeftes weeg deurgaans swaarder by die beoordeling as literêre meriete alleen.
Uitgewers en skrywers word genooi om Afrikaanse boeke wat gedurende 1 Januarie 2004 tot en met 31 Desember 2004 verskyn het, in te skryf vir die ATKV-Prosaprys. Die oorhandiging van die prys vind plaas tydens ‘n prestige-geleentheid op 12 Maart 2005 in Gauteng.
Vir meer inligting asook reëls kan Roline Haine gekontak word by (011) 919 9000.