Wildehonde mees bedreigde karnivore
Die Afrika wildehond is die mees bedreigde karnivoor in die suidelike Afrika met slegs 5000 wildehonde in die wildernis vandag. Hulle word lank reeds bedreig deur die mens en is verkeerdelik geïdentifiseer as brutale aanvallers en vernietigers.
Nieteenstaande hul reputasie as gesoekte vernietiger, sal die wildehond slegs doodmaak vir sy onmiddellike behoefte. Hulle is vinnige en bekwame jagters en hul metode van doodmaak, om die ingewandes uit te haal, is baie keer meer effektief as die leeu wat sy prooi versmoor.
Die wildehonde lewe in fassinerende sosiale groepe wat troppe genoem word. Gewoonlik het slegs die “Alpha” wyfie ‘n werpsel wat wissel van agt tot vyftien, alhoewel daar al werpsels van tot 21 waargeneem is. Die volwasse wildehond sal die jongspan se vleis uit braak, aangesien hulle vir die eerste drie maande van hul lewe in die lêplek bly.
Hulle sal ook help om wag te hou oor die kleintjies, en word dikwels gewaar waar hul meedoen in die kleintjies se spelery. Wildehonde is baie nuuskierig en ondersoekend, maar daar bestaan nie ‘n geval waar hulle al ooit die mens aangeval of skade aangedoen het nie.
Elke wildehond het ‘n unieke pels patroon wat hulle maklik onderskeidbaar maak vir die ander. Hul pels bestaan uit ‘n verskeidenheid kleure van swart, geelbruin en wit vlekkies. Hulle bereik slegs ‘n maksimum gewig van 20 tot 30 kilogram.
Ten spyte van hul klein grootte, het hulle ongelooflike stamina. In die Nasionale Kruger Wildtuin is hul woongebied oor ongeveer 450km² versprei, maar in kaler areas is hul woongebiede aansienlik groter.
In die Marakele Nasionale Park, Marakele (Pty) Ltd en Welgevonden Privaat Wildreservaat is daar 33 wildehonde. ‘n Trop van 23 in Marakele (Pty) Ltd, vyf in Marakele Nasionale Park en vyf in Welgevonden Privaat Wildreservaat. Al hierdie honde het hul oorsprong van sewe individue wat in Mei 2003 in Marakele (Pty) Ltd losgelaat is.
Hierdie populasie van wildehonde vorm deel van die Wildehonde Metapopulasie wat in ‘n aantal kleiner reservate in Suid-Afrika voorkom.
Navorsing om die wildehond se beweging en jag metodes vas te stel, word huidiglik in Marakele gedoen. Die navorsers hoop dat hierdie populasie stabiel sal bly en in harmonie sal saamleef met die omringende gemeenskap. Hul lang termyn oorlewing is essensieel vir die toekomstige oorlewing van hierdie pragtige karnivore.
The African Wild Dog: Behavior, Ecology, and Conservation @Amazon.com