Strewe VLU jaareindfunksie

Die VLU dames van Strewe tak het hul jaareindfunksie in die pragtige tuin van Bessie Snyman gehou.
Die bederf het begin deur die talentvolle sussies, Annerie en Lana, wat die dames betower het met ‘n viool en blokfluit item. Maryna Loots het seker gemaak dat die dames bederf word met ‘n ontbyt wat begin is met ‘n verfrissende voorgereg. ‘n Hoofgereg het gevolg van soveel disse om van te kies en te keur en ‘n nagereg wat so na aan die hart van soettande was.
Dr Nesta, Annelies en Mineon was die gassprekers en het die lede as dames daaraan herinner dat familie baie belangrik is, maar as vrou is haar gesondheid van binne en van buite net so belangrik, want as die vrou nie gesond is nie, is haar huis ook siek, as die vrou nie goed voel oor haar self nie gaan haar familie nie gelukkig wees nie, want die vrou is die fondasie van elke huis.
Bessie het die dames meer van haar gesondheidskliniek, La Casa Bella Donna, vertel. Janine se sterretjie onder haar bord het vir haar ‘n pedikuur by La Casa Bella Donna gewen.
Die dag is afgesluit met die VLU gebed en al die dames van Strewe Tak wens ‘n geseënde Feestyd vir elkeen toe.