Gestoei met boormasjien lewer warm water
THABAZIMBI – Die gestoei om ‘n boormasjien bo-op ‘n berg te kry om ‘n boorgat te sink het ‘n verrassing opgelewer nadat die boormasjien nie die tog kon maak nie, en die poging om dit met ‘n trekker verder teen die berg op te trek ook misluk het.
Jan Plaas (van der Merwe), van die plaas Wagenbietjiesdraai net buite Thabazimbi, het omtrent ‘n jaar gelede besluit om teen die berg ‘n boorgat te sink vir water vir sy vee. Toe hulle besef dat daar geen manier is om die boormasjien hoër teen die berg op te kry nie, het die boorman uit skoon moedeloosheid besluit om net daar waar die boormasjien staan te boor.
Die opgewondenheid was nogal groot toe hulle op 30 meter water raakboor. Hierdie opgewondenheid is oor in verbasing toe hulle voel dat die water warm is en boonop ‘n sterk swaelreuk gehad het. Wat hulle hier raakgeboor het was ‘n natuurlike spa. Die water is getoets en daar is gevind dat dit heelwat minerale soos swael, yster en verskeie nitrate bevat. ‘n Tweede gat is geboor met presies dieselfde resultate as die eerste gat. ‘n Derde gat het brakwater opgelewer en die vierde, verder die berg af, het vars water gelewer.
Die bonus van die warmwater kon nie net daar gelaat word nie en Jan het ‘n swembad asook twee rondawel chalets by die warmwater gebou. Natuurlike klip wat in die berg voorkom is vir die konstruksie van die chalets gebruik. Hy het ook ‘n wandelpad hiervandaan na die ou antieke myntjie bo-op die berg gebou.
‘n Groot verskeidenheid van inheemse bome kom ook hier voor. So is daar ‘n reuse tambotieboom waarvan die stam so dik is dat drie mans sukkel om dit te omarm. ‘n Wandelpaadjie is ook aangelê om jou na hierdie boom te neem.
Die bome in hierdie gedeelte is nogal bekend. So is daar op die aangrensende plaas, Klipgat, ‘n kameeldoringboom wat as poskantoor gebruik is. Die pos is by die boom afgelewer en die uitgaande pos is daar opgetel.
Al die chalets is selfversorgend en word benut deur stappers en bergklimmers. Op die plaas is daar ook ‘n plek waar die grotes uit die water getrek kan word. As jy dus vir ‘n naweek van visvang wil wegbreek is hierdie ook die ideale plek om te bly.