Fratsongeluk eis lewe
THABAZIMBI – ‘n Bekende inwoner van Thabazimbi, Piet Bender (57), is Dinsdag 14 September oorlede na, in wat as ‘n fratsmotorongeluk beskryf kan word. Die ongeluk het omstreek 19:00 in Ipelegeng plaasgevind.
Piet, ‘n gekwalifiseerde Motortegnikus, het herstelwerk aan ‘n minitaxi gedoen, en die voertuig gaan toetsbestuur. Om een of ander rede het die remme onklaar geraak en het die voertuig teen die afdraende begin agteruit loop. Hy het dit onder beheer gehou, maar toe dit die pad verlaat het hy blykbaar besluit om uit die voertuig te spring. Die voertuig het teen die ou fondasies van die ou skure van die koöperasie tot stilstand gekom.
Piet het egter bors en kopbeserings opgedoen en is in die Thabazimbi hospitaal opgeneem waar hy die aand om 21:30 oorlede is.
Piet het sy vakleerlingskap as Motortegnikus by die destydse Istores voltooi. Hy het hierna ‘n tyd lank by Thaba Nissan gewerk en daarna op Iscor Ellisras. Hierna was hy by Thabazimbi Delta werksaam en vir die afgelope aantal jare het hy hom besig gehou met motorherstelwerk en ligte ingenieurswerke.
Hy word oorleef deur sy dogter, Mariska (20) en stiefseun Henno (28), sy twee susters, Alta en Kallie en broer Jan asook sy stiefma, tannie Anna.
Die familie spreek ook hul waardering uit teenoor Johannes Ratshosa asook Boytjie en Elizabeth vir hul toewyding jeens hom.
Die begrafnis is Maandag 20 September om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk Vliegepoort Thabazimbi.