Dis weer tyd vir die Bosveld Braaikompetisie
THABAZIMBI – Die jaarlikse braaikompetisie se tyd het aangebreek. Die kompetisie vind op Saterdag, 31 Julie plaas. Alle voorbereiding kan in erns begin word, van die dekor met die tafels, tot die beplanning vir voorgereg en nagereg.
Elke span is verantwoordelik vir hul eie braaiers, hout, braaibenodigdhede, vleise en bykosse. Alle geregte moet tydens die kompetisie op die skouterrein gaargemaak word, behalwe brood.
Vanjaar het die organiseerders besluit dat elke span vir hul hoofgereg ‘n ribbetjie en varktjop moet gaarmaak. Om eenvormigheid te behou, moét die vleis op die kole gebraai word. Die voorgereg en nagereg bly steeds die span se inisiatief.
Beoordeling sal uit 100 punte bestaan, waarvan die braaivleis 50 punte, bykosse 20 punte, voorgereg en nagereg onderskeidelik vyf punte elk, en die algehele indruk (voorkoms, versiering en tafelaanbieding) 20 punte sal uitmaak.
Die beoordeling sal deurentyd geskied na aanleiding van voorbereiding, gaarmaak en opdiening.
Die prysuitdeling vind om 16:30 plaas en pryse sluit in ‘n naweek vir 20 persone by Waterberg Kruin, ‘n naweek vir twaalf volwasse persone in ‘n boskamp, ‘n naweek vir vier persone by Bosch Fontein Gastehuis, twee staalbraaiers, twee vlakvarke, Bayer Dieregesondheid geskenkpakke, kar was- en politoer geskenkbewyse en nog vele meer.
Maksimum lede per span is vier persone en inskrywingsgeld is R40 per span.
Inskrywingsvorms is by die Skoukantore beskikbaar en moet voor of op 30 Julie ingehandig word. Vir verdere navrae kan Talla by (014) 777 1204 gekontak word.