Kunstekoel leerders welkom by Aardklop
Graad 9-12 leerders wat kunstekoel is, mag nie hierdie jaar die ATKV-Kunste-ekstase by Aardklop misloop nie! Skakel vandag nog om jou plek te bespreek. Kultuur- en kunsteliefhebbers by skole wat altyd droëbek moet toekyk hoe die sportmense vakansie na vakansie gaan toer of sportsaamtrekke hou, het nou ‘n geleentheid om in te skryf vir die unieke ATKV-Kunste-ekstase wat byna gelyklopend plaasvind met die Aardklop-Kunstefees, vanaf 26 September tot 1 Oktober, in Potchefstroom. Die sluitingsdatum vir die inskrywings is 31 Julie.
Die leerders in graad 10-12 kan ‘n week vol kunste-ekstase verwag! Die opwindendste deel van die program is die Kunstewaarderingskursus. Hierdie is ‘n geleentheid om op ‘n interessante “doen-manier” iets te leer van al die kunsvorme waarvan jy nog net gehoor het! Jy gaan blootgestel word aan toneelspeel (of die redenaarskuns), sing (koorsang of ligte musiek), die visuele kunste (teken self, of ontwerp dalk ‘n mooi rok), dans (wye verskeidenheid vorme), ‘n teater se binnewerkinge (byvoorbeeld die werking van ‘n klanksisteem) en die skryfkuns.
Die Aardklopprogram sal in ag geneem word om te verseker dat genoeg professioneles in aksie gesien word – ‘n drama-opvoering, ‘n dansuitvoering, ‘n musiekkonsert, ‘n uitstappie na ‘n kunsgalery word beplan, plus alles wat nog ingepas kan word! Tyd sal ook gegee word vir uitstappies na die vlooimarkte en feesterrein.
Vir graad 10-12’s wat reeds weet wat hulle van die lewe verlang en nie die algemene, prettige Kunstewaarderingskursus wil volg nie, is daar ‘n geleentheid om in een spesifieke rigting meer te leer. Opleidingskursusse vir hierdie groep sluit in:
Ligte musiekkursus vir die voornemende Idols
Mode-ontwerpkursus
Redenaarskursus
Toneelspelkursus
Visuele Kunste-kursus
Danskursus
Filmwaarderingskursus
Kursus in Filosofie of “praat oor die kunste”
Teatertegnologiekursus (dekor, rekwisiete, beligting en klank)
Teatertegnoliegiekursus (kostuums en grimering)
Hierdie kursus kan slegs plaasvind indien daar ‘n minimum van 10 inskrywings per kursus is.
Die koste van die kursus is ‘n skamele R940 vir die week en sluit verblyf en etes in. Navrae en besprekings kan gerig word aan Francina van Vuuren by (011) 8864888 of e-pos francina@atkv.org.za. Alle inligting en inskryfvorms is ook op die ATKV se webwerf beskikbaar by www@atkv.org.za.