Nuwe plaasborde om polisie te help
THABAZIMBI- Boere kan binnekort nuwe plaasborde bekom wat die polisie in staat sal stel om vinnig te reageer op klagtes, en die plaasboer van noodinligting sal voorsien.
In sektorpolisiëngsvergaderings wat te Makoppa en Zimtabi gehou is, het die gemeenskap die polisie geloof vir hulle flink optrede om die booswigte van die afgelope tyd se plaasaanvalle aan die pen te laat ry.
Die polisie het op hulle beurt die gemeenskap bedank vir die goeie samewerking wat daar heers met die polisie.
Die algemene veiligheidsituasie in Thabazimbi en omgewing het aandag geniet met die oog spesifiek op plaasaanvalle.
Volgens Kaptein Charles Smith, skakelbeampte van Thabazimbi SAPD, is almal positief oor die sektorpolisiëring. “Komitees is reeds gestig en sal op ‘n maandelikse basis bymekaar kom.”
Die idee van ‘n plaasbord met ‘n identifikasienommer vir elke plaas het ontstaan, omdat soveel plaasname verander het in die laaste tyd met die verwisseling van eienaars.
Die bord wat 600 x 24mm groot is, met ‘n bruin agtergrond en geel reflekterende letters, sal bo-aan die padnommer hê.
In die middel is die plaas se nommer, met die naam van die polisiewyk net onder. Heel onderaan sal die naaste polisiestasie se 24-uur telefoonnommer gedruk word.
Hierdie borde beloop ongeveer R390 en moet self deur die boer aangekoop word. Volgens die polisie sal die elke plaas in die Thabazimbiwyk deur die polisie genommer word.
Vir meer inligting oor hierdie en ander gemeenskapspolisiëromgsprojekte, skakel Kaptein Charles Smith 082 562 7902 of 014 777 3500 of Inspekteur Roelf Crause 083 310 2567.