General

SAPD waarskuwing

THABAZIMBI – Die SAPD het ‘n waarskuwing aan die gemeenskap uitgereik na aanleiding van die nuutste kriminele skelmstreek wat in die omloop is. Volgens die Risiko Bestuur Dienste in Pietermaritzburg, is daar ‘n groep kriminele wat in besonder die vroue teiken deur voor te gee dat hulle van die poskantoor af skakel en jou werk se posadres bevestig. Wanneer hierdie inligting verskaf word, word sy meegedeel dat sy ‘n geskenkbewys gewen het vir haar ondersteuning en dat sy haar huis- en posadres moet verskaf sodat die bewys gepos kan word.
Sover is daar by 90% van hierdie vroue se huise ingebreek gedurende kantoorure aangesien die kriminele weet dat hulle werksaam is en wat hulle huisadres is. Die polisie dra kennis van hierdie skelmstreek en het met die poskantoor bevestig dat hulle nie besig is om poskode-opnames te doen nie.
Tweedens is daar aangemeld dat oproepe ontvang word van persone wat hulself as poskantoor tegnici identifiseer en dat hulle die lyne toets. Die ‘tegnikus’ sal jou vra om nege nul gevolg deur ‘hash’ (90#) te druk en dan die gehoorstuk neer te sit.
Indien jy dit doen, gee jy hierdie ‘tegnikus’ volle toegang tot jou foonlyn wat hom instaat stel om internasionale-, lang afstand- en geselslyn oproepe te maak wat op jou rekening gefaktureer gaan word.
Die inligting wat die polisie besit, dui daarop dat baie van hierdie oproepe afkomstig is van (die parlement?) gevangenisse deur die land. Die inligting is deur die polisie ondersoek en is korrek. Moet onder geen omstandighede 90# vir enigiemand druk nie!