AgriculturalBusinessFeaturedTop StoriesTourismTravel

Kransberg-grondeienaars laat hul stem hoor teen prospekteerregte vir mynbedrywighede

Grondeienaars in die Kransberge het saamgestaan om die aansoek vir prospekteerregte binne die Kransberg Biosfeer teë te staan nadat dit bekend geword het dat ‘n myngroep aansoek ingedien het om mynaktiwiteite binne hierdie sensitiewe gebied te bekom.

Die aansoek is deur die myngroep, Legae Mining (Pty)Ltd gedoen. As deel van die aansoek is die firma Basia Environmental Consultant aangesê om die aansoek te hanteer.

Die implementering van die Mineraal- en Petrolium Hulpbron Ontwikkeling Wet No 28 of 2002 (MPRDA) wat op 1 Mei 2004 in werking getree het, beheer Suid-Afrika se minerale wetgewing. In terme hiervan is alle mineraleregte wat voorheen aan die grondeienaar behoort het, oorgedra na die staat.

Hierdie wet laat enige derdeparty, soos Legae Mining (Pty)Ltd, toe om ʼn aansoek by die Departement van Minerale Hulpbronne om prospekteerregte of die minerale regte in te dien, sonder dat die grondeienaar hiervan bewus hoef te wees. Die aansoek word dan deur middel van Omgewings Konsultante, soos hier die geval was, voorberei namens die aansoeker. Die grondeienaar word dan 30 dae nadat die permit toegeken is gegee om te reageer. Hulle stem word selde gehoor aangesien hulle veronderstel is om die Omgewings Konsultante net “by” te staan om die finale voorlegging aan die Departement van Minerale Hulpbronne te doen.

In hierdie spesifieke geval is aansoek gedoen vir prospekteerregte vir Deel 1 van die plaas Hartbeesfontein 456 KQ en gedeelte van die oorblywende deel van die plaas Hartbeesfontein 456 KQ in die Waterberg Distrik Munisipaliteit in Limpopo Provinsie.

Die gedeeltes is aangrensend aan Groothoek, Marakele Nasionale Park met Buffelspoort en Buffelshoek asook Donkerpoort en Dassiesrand in die onmiddellike omgewing van die beoogde gedeelte wat ter sprake is.

Grondeienaars is nie direk gekontak nie en hulle het deur derdepartye kennis geneem van hierdie aktiwiteite. Daar is onmiddellik tot aksie oorgegaan om alle belanghebbendes hiervan in kennis te stel en by die aksie te betrek.

Volgers die aansoekers het hulle orals kennisgewings aan grensdrade gelos om belanghebbendes en grondeienaars in te lig en die geleentheid te bied om te registreer vir die inligtingsvergaderings en ook om meer inligting aangaande die projek te bekom.

Die publiek se deelname is deel van die proses om grondeienaars, okkupeerders van grond en individue wat deur hierdie  geraak gaan word te betrek.

Na bewering is die plaaslike koerante ook betrek om deur advertensie die publiek se deelname in die proses te verkry.

Die gemeenskap het onmiddellik aan die werk gespring en werk gemaak om teen hierdie beoogte myn- en prospekteerregte beswaar aan te teken.

Buiten dat die inwoners wat die omgewing wil bewaar en die hele gemeenskap hierby betrek is as deel van die erfenis wat vir die nageslagte bewaar moet word, is hierdie gedeeltes ook in die Gazette as ʼn Onvervangbare Kritieke Biodiversiële Area verklaar.

Alhoewel daar aangevoer word dat die prospekteergebied slegs ʼn paar honderd hektaar binne die Waterberg Biosfeer beslaan, word deur hierdie aksie honderde ander mense betrek wat versprei is oor verskeie toeriste eiendomme in verskeie munisipale gebiede, om nie eens te praat van die inpak op die verskeidenheid van Fauna en Flora in hierdie Waterberg biosfeer nie. (Lees meer na die fotogalery)

Van die organisasies en unieke eienskappe wat hierby belang het is Marakele Nasionale Park, die kransaasvoël kolonie, skaars skoenlappers en insekte kolonies asook verskeie reptielspesies en programme en bewaringspraktyke wat binne die raamwerk van die Waterberg Biosfeer op ʼn lopende basis geskied.

Die hele voorleggingbeswaar wat deur die belanghebbendes ingedien het beslaan etlike bladsye van wetgewing wat reeds beskermde gebiede wat soos hierdie teen eksplorasie en mynbedrywighede verskans is, is ook aangeheg. Dit sluit ook die petisies en persoonlike teenkanting van belanghebbendes in.

Die dokumente is aan die betrokke partye oorhandig en daar word nou gewag vir terugvoering in hierdie verband.

Meer inligting oor hierdie poging om Kransberg vir mynbedrywighede te annekseer volg sodra finale uitsluitsel van die Departement Bosbou, Visserye en omgewing ontvang word.