EntertainmentFeaturedTourism

Thabazimbi KunsteGrot – Onontginde toeristejuweel vir besoekers

Die een toeristejuweel waaroor Thabazimbi beskik word so maklik mis gekyk omdat mens meer ingestel is op die natuur – wildsbokke, bosveldtonele en eko-toerisme as die woordjie toerisme opduik.

Dit is natuurlik die KunsteGrot op Thabazimbi waar verskeie uitstaande verhoogoproduksies van ons voorste Afrikaanse kunstenaars aangebied word.

Die volgende vertoning by die KunsteGrot is juis Saterdagaand 25 November 18:30 vir 19:00 wanneer die bekende Sewende Laan akteurs, Elma Potgieter en Justin Strydom, omgekeerde rolle in die skreeusnaakse Dinner for One / Sopper vir Een na die KunstegGrot se verhoog bring.

Verhoogproduksies soos hierdie word gewoonlik net in die digter bevolkte gedeeltes op bestaande verhoë in die stad of by een van die Kuns & Kultuurfeeste aangebied. In Pretoria is daar die bekende Pierneefteater, Die Teaterhuisie en groter Breytenbachteater asook verskeie ander kleiner en groter teaters oor Pretoria en voorstede versprei waar die kleiner produksies hul draai maak.

Teatervrate se probleem is dat na ʼn vertoning in Pretoria terug na Thabazimbi, Lephalale, Bela Bela of Rustenburg gaan jy jou op ʼn provinsiale pad bevind, of jy en die mense saam met jou moet in die stad oornag. So ʼn besoek sluit selde ander besoekpunte in en mens wil net so vining as wat jy jouself in die stadsverkeer en remoer ingelaat het, weer daaruit ontsnap. Dit is nou as jy genoeg slaap ingekry het met die konstante dreuning van die stad wat min slaap.

Op die ou einde het jy eintlik nie ontspanning nie met die stadsverkeer waarvoor jy jouself inlaat nie – beslis nie iets wat jy elke kort-kort gaan aanpak nie.

Vir ʼn kleinbietjie addissionele petrolgeld, en geen stadsverkeer nie asook die rustigheid van die platteland, is dit die moeite werd om uit te wyk na Thabazimbi waar jy kan tuisgaan in ʼn gastehuis in die boomryke dorp of nabygeleë plotte en selfs op ʼn klein wildsplasie of Lodge naby die dorp. Ervaar so die gasvreiheid van die verblyfplekke en geniet die unieke omgewing so eie aan Thabazimbi.

Aangesien piekniekmandjies welkom is terwyl jy die vertoning geniet kan jy jou mandjie reeds by die huis opmaak en met al jou eet en drinkgoed in die koelhouer totdat jy die mandjie regkry vir die vertoning. Thabazimbi het verskeie restaurant waar jy en jou gesin die volgende dag ʼn stewige ontbyt of ligte middagete kan geniet.

Daar word gewoonlik na elke vertoning nog ʼn tydlank gesellig saam met die kunstenaars gekuier tewyl die mandjies leeggemaak word. ʼn Ondervinding wat jy nie maklik by een van die stadteaters sal geniet nie. Plaaslike inwoners kan gerus hul vriende op die ander dorpe of in die stad nooi om saam met jou by die vertoning by die KunsteGrot te geniet, dit met jou eie piekniekmandjie en drinkgoed van jou keuse om te verseker dat Thabazimbi steeds hierdie unieke geleentheid vir die platteland kan bied.

Nog ʼn bonuspunt is die feit dat jy terug oppad huis toe jou week se aankope by verskeie groot super- en groentemarkte kan gaan doen, iets wat jou van die gedrang van die inkopiesentrums in jou tuisdorp gedurende die week of op ʼn besige naweek gaan kwytskel. Konstruksie aan Thabazinbi se volgende Mall met Checkers as hoeksteen supermark is reeds ver gevorder en ʼn welkome toevoeging tot die bestaande inkopiemark..

Na ʼn aand se rustige slaap in die bosveld atmosfeer kan jy steeds ʼn vinnige besoek aan Marakele Nasionale Park, sowat 15km buite Thabazimbi bring of ʼn draai by die Marakele Predator Park, met meer diere om te sien as net leeus, of Reptiel en slangpark naby die ingang tot Marakele maak. Sondae 12:00 word die leeus by die Predator Park gevoer, waarna daar nog genoeg tyd is om huistoe te ry indien jy van een van die omliggende dorpe afkomstig is.

Dit is byna dieselfde afstand vanaf Rustenburg, Brits, Bela Bela en Lephalale na Thabazimbi, sowat een en ʼn halfuur se ry. Vanaf Gauteng is dit sowat twee ure tot twee en ʼn halfuur se ry, afhangend van waar jy bly. Naby genoeg vir ʼn genoeglike tydjie wat boonop ʼn teatervertoning insluit.

Kaartjies is beskikbaar teen R180 per persoon met spesiale tariewe vir pensionarisse en kinders. Maak seker om hierdie vertoning nie mis te loop nie en bespreek jou kaartjies nou by Rita 083 744 8559.

Sien meer by KunsteGrot: Sopper vir Een skop gat met Dinner for One – Die Kwêvoël (kwevoel.co.za)

Indien jy belangstel in verblyfopsies in Thabazimbi, kontak gerus vir Nicolette by discover.thabazimbi@gmail.com.

Die vorige vertoning was met Jannie Moolman wat saam met Helene Bester met Nag in die Namib en roerende vertoning vol nostalgie soos net  hierdie twee kunstenaars kan doen.

Sien die berig van hierdie optrede by Kwêvoël se tuisblad by Heimwee en verlange met Jannie Moolman en Helenè Bester by die KunsteGrot – Die Kwêvoël (kwevoel.co.za)

Gaan loer gerus by www.kwevoel.co.za en soek by Entertainment / Community en sien watter kunstenaars van formaat reeds in die KunsteGrot opgetree het. Hieronder is Jac de Priester, Lizz Meiring, Blackie Swart, Rocco de Villiers, Petro Wessels en Carel Trichardt en heelwat meer. Gaan soek gerus terug in die geskiedenis om meer te lees van die gaskunstenaars se optrede by die KunsteGrot.

Rita van die KunsteGrot beloof om volgende jaar ʼn redelike vol program te bied nadat die kunste maar stadig na die afgelope Covid Inperking herstel het.

Mens kan net noem dat die kunstenaars hul optrede by die KunsteGrot redelik hoog ag en beloftes los van nog optredes aldaar.