Heimwee en verlange met Jannie Moolman en Helenè Bester by die KunsteGrot
KunsteGrot-gangers het ’n aand van hoogstaande vermaak Saterdagaand 3 Junie 2023 geniet met ou bekendes in ’n nuwe formaat, naamlik die optrede van Jannie Moolman en Helenè Bester as sangpaar.
Met al die kaartjies uitverkoop was dit ’n hoogs ontvanklike en waarderende gehoor wat die twee kunstenaars begroet het. Beide hierdie sangers is baie goed aan die Thabazimbiërs bekend en het reeds by voorige geleenthede in die ou KunsteGrot opgetree.
Daar was besondere goeie tye in die vorige in ou Grot, die ou Spar Winkel in Ipelegeng, wat deur die vorige huurder Hannes van Thaba Superspar in ’n teater omskep is, iets wat Thabazimbi behoorlik op die vermaaklikheidskaart van Suid-Afrika geplaas het. Die ou era is met Lizz Meiring se produksie ’n Mooi Storie gedurende verlede jaar Mei 2022 afgesluit.
Daar is gespook met die verskuiwing na die nuwe KunsteGrot op die Thabazimbi Skouterrein om alles gereed te hê vir die amptelike inwyding skaars ’n maand later. Hierdie skuif is verwelkom aangesien dit die KunsteGrot baie meer toeganklik vir die ondersteuners gemaak het.
Jannie Moolman* was direk betrokke met die opening van die nuwe KunsteGrot, byna tot op die datum ’n jaar gelede in die Trollope Saal op die Skouterrein waar ’n lekker lewendige gehoor hom en vir Blackie Swart op die nuwe verhoog verwelkom het.
Helenè Bester** het reeds so lank gelede as 2009 met die KunsteGrot kennis gemaak. Haar laaste vertoning hier was in 2019 toe sy sekerlik een van die mees befaamde internasionale sangers, Nana Mouskouri, in die KunsteGrot laat herleef het met die “Helenè Bester sing Nana Mouskouri” vertoning.
Twee verskillende magte het gewerk om Helenè en Jannie as sangpaar bymekaar te bring om met hernude krag en nuwe liedjies hul eie unieke stempel op die Afrikaanse musiektoneel te plaas. Dit was natuurlik Covid-19 en die besef dat hulle nog nooit sover gekom het om hul stemme bymekaar te gooi nie.
Helenè en Jannie het ʼn geruime tyd gelede reeds begin dink om optredes saam te doen maar dit het Covid-19 inperking debakel gekos om die bal aan die rol te kry.
Helenè, wat sedert 2002 die vermaaklikheidswêreld toegetree het as sanger, liedjieskrywer, stemkunstenaar en TV aanbieder, het innoverend begin dink en besef dat sy werk moet maak om alternatiewe te skep om met ʼn nuwe aanslag die verhoog te betree.
In haar soeke het sy Jannie Moolman genader wat meer as gereed vir so ’n konsep was.
Jannie vertel dat hy jare gelede, tydens ʼn besoek aan Namibië, een van die ou inwoners daar leer ken het. Die persoon het aan hom verskeie gedigte gegee waarin die digter sy liefde vir Namibië weerklank gevind het. Jannie het beloof dat hy iemand sal kry om die gedigte te toonset en het die gedigte saam met hom na Suid-Afrika gebring.
Die liedjie wat vir hulle die nuwe era as sangpaar ingelei het was ‘Nag in die Namib’*** gebaseer op ’n gediggie wat hy in die 90s by Oom Arend in Windhoek gekry het.
Die tyd was nou reg om iets wesenlik met die gedigte te doen en toe Helenè hom kontak het hy juis die gedigte aan haar gewys. Met die gedigte as verterkpunt het Jannie en Dewald Gouws kragte ingespan om dit as liedjies te verwerk en te toonset.






Om aan te haal uit ’n vorige resensie: “Nag in die Namib pas Jannie Moolman en Helenè se pragtige stemme soos ʼn handskoen en is een van daardie enkelsnitte wat dadelik in jou kop kom vassteek, omdat dit net soos die Namib – uit die staanspoor jou asem wegslaan.”
Dit was ook dan die liedjie waarmee hulle die amptelike vertoning in die KunsteGrot afgesluit het.
Vooraf is die gehoor getrakteer met verskeie liedjies van ondermeer Koos du Plessis, Lucas Maree, Anneli van Rooyen en Bietjie Bitter Dagbreek, die toonsetting van ’n Ingrid Jonker gedig.
Soos Jannie dan ook verduidelik het gee die digter betekenis aan die woorde terwyl met die toonsetting, die sanger weer emosie aan die gedig verleen. Dit is nie ’n eenvoudige proses nie, want die een mag nie die ander van sy ware betekenis of vertolking ontneem nie. Dit is nie net gewoonweg om musieknote by die gedig te voeg nie, partykeer is dit moeilik om die twee kunsvorm met mekaar te paar, maar die eindproduk verleen soveel meer diepte en rykheid aan beide met die nuwe lied.
Die twee kunstenaars het mekaar ook afgewissel waar elkeen van hulle hul eie solo vertoning gelewer het. Helenè met die Nana Mouskourie romantiese liedjies en Jannie met sy emosionele O Boereplaas, Liza se klavier van Koos Kombuis en Die weduwee se kruik van Lucas Maree.
Die KunsteGrot besoekers is almal met ’n heerlike beker sop en broodjies, verskaf deur Hannes Coetzee van Thaba Superspar, asook ’n glasie Old Brown sjerrie, verskaf deur Tops Thabazimbi, verwelkom.
Pick n Pay se borgskap in die vorm van ’n swaar teater voorgordyn sal ook gedurende hierdie week verwesenlik word.
Die volgende vertoning by die KunsteGrot word as deel van die Thabazimbi Skou op Woensdagaand 26 Julie aangebied. Hierdie is basies ’n Gala vertoning van die kunstenaars wat gaan optree en die gaskunstenaar tydens hierdie geleentheid is die gewilde Lianie May.
Tafels asook sitplek by tafels kan vooraf bespreek word. Hierdie sitplekke sluit kos in. Verder is daar stoel-sitplekke wat ook bespreek moet word. Verversings sal te koop aangebied word. Skakel gerus vir Debbie by 079 529-3778 om jou tafel, plek of stoel te bespreek.
Vir meer inligting hieroor sien die plakkaat op Facebook by www.facebook.com/kwevoel
*(Lees gerus meer hieroor in die plasing op Kwêvoël se tuisblad by www.kwevoel.co.za – rol aan die regterkant af tot by die soekfunksie en tik in Jannie Moolman en Blackie Swart – sodra dit oopmaak rol af met die vorige plasings tot by die berig)
**(Meer hieroor op Kwêvoël se tuisblad – volg dieselfde instruksies as hier bo en tik in Helene Bester by die soekopsie)
Sien ook ‘Related” hier onder