Kommentaar: Weghol-Vragmotors in Thabazimbi onaanvaarbaar
Geluk was weereens aan die kant van motoriste om nie getref te word toe ’n swaarvoertuig verlede week nie betyds by die T-aansluiting van die Ellisras-pad met Warmbadweg in Thabazimbi tot stilstand kon kom nie. Die bestuurder het vermoedelik probeer om teen vollevaart regs in Warmbad af te draai toe die lang ekstra swaarvoertuig met sy sleepwa omgeslaan het en op sy rug teen die treinspoor se wal te lande gekom het.
Hierdie ongeluk wat op 18 April 2023 gebeur het, is op een week na, op dieselfde datum toe ʼn trok op 12 April 2022 met sy vrag en al bo op die spoor te lande gekom het (sien berig in Kwêvoël van 27 April 2022).
In ’n berig wat op 8 Januarie 2021 in Kwêvoël gepubliseer is, is verslag gedoen van hoe ’n vragmotor in stukke opgebreek het nadat dit teen volle vaart die treinspoorwal by die T-aansluiting van die Lephalale-pad met Warmbadweg getref het. Die slag van die ongeluk was so groot dat een van die twee vraghouers wat dit gesleep het asook die trekvoertuig se kajuit in Stasiestraat anderkant die spoor te lande gekom het.
Hierdie is die soveelste ongeluk by die spesifieke aansluiting waar swaarvoertuie nie betyds kon stop nie aangesien hulle remme ‘skielik’ sou ingegee het.
Ongelukkig blyk dit nie of terugvoering gegee word van ondersoeke, sou daar enige wees, wat gedoen word om die oorsaak te bepaal hoekom die remme onklaar geraak het, na SANRAL of selfs die Munisipale Verkeersowerheid of aan enige ander gesagsliggaam wat moet omsien na die veiligheid van ander padgebruikers nie. Waar is die skadevergoeding wat mens sou verwag deur die eienaars van voertuie wat skade aan munisipale eiendom, of in hierdie geval PRASA of wie ook al by die Department van vervoer of instansie vir die instandhouding van spoorlyne verantwoordelik is. (Sien videos aan die einde van hierdie kommantaar)
Daar kan met redelike sekerheid aanvaar word dat ’n vragwa met skrootyster sowat ’n goeie 40 ton of meer kan weeg. Dink aan die inpak as dit eenvoudig alles in sy pad gaan wegvee as daar voertuie in die aansluiting is, by die stopteken of besig is om die kruising in Warmbadweg oor te steek. ’n Ramp wat jy nie wil hê moet gebeur nie en veel groter as wat die plaaslike munisipaliteit, selfs met die hulp van omliggende myne se nooddienste, sal kan hanteer.
In nog ’n ongeluk die oggend van 2 Augustus 2018 het ’n weghol-vragmotor oor die aansluiting gery en die agterkant van ’n skoolbus getref wat vanaf Amandelbult met leerlinge na Hoërskool Frikkie Meyer op pad was.
Gelukkig is niemand ernstig in hierdie ongeluk beseer nie. Indien die bus ’n paar sekondes later in die aansluiting was, sou dit ’n ramp gewees het.
Na die twee ongelukke wat gedurende 2019 in een week by dieselfde aansluiting plaasgevind het was Kwêvoël in gesprek met mnr Gerrie Visagie, hoof van Thabazimbi Munisipaliteit se Rampbestuur.
Tydens die gesprek het hy daarop gewys dat SANRAL se reaksie was om te sê dat die ongelukke binne die jurisdiksie-gebied van die Thabazimbi Munisipaliteit plaasvind en is dus ’n probleem vir Thabazimbi munisipaliteit. SANRAL se verantwoordelik hou blykbaar op in die omgewing van die ou Padkamp net verby die Alma-afdraai. Dit ongeag die feit dat die ongelukke heel waarskynlik hul aanloop het in die gedeelte van die pad wat binne SANRAL se jurisdiksie val.
Daar word gepraat van sandputte vir weghol-voertuie wat weliswaar ’n moontlike opsie is. Die ongeluk is dat teen die tyd dat die bestuurders besef dat hulle in groot nood verkeer daar baie min plekke is vir so ’n noodmaatreël.
Kommentaar: Pieter Coetzee – Redakteur – Kwêvoël (Sedert 1983)
Foto: Joshua Motsomane
Hoe om steil afdraandes veilig aan te pak
Sodra so ’n voertuig se handrem geaktiveer word, sorg die lugdruk in die reservoir dat die remskoene teen die wielvellings inskop en die voertuig nie kan beweeg nie. Netso, sodra die handrem gedeaktiveer word, word die lug vrygelaat en ontkoppel die remskoen van die wielvellings. Die luglating kan duidelik gehoor word sodra ’n swaarvoertuig wegtrek.
Werking van lugdrukstelsels