Toerisme Dag: Groei, ongeag erge beperkings deur Covid
Met agtien maande van erge inperking agter die rug en in die tweede jaar sedert die Covid-19 pandemie toegeslaan het, is dit veral toerisme en verwante gasvryheid-bedrywe wat finansieel die ergste getref is.
Miljoene mense in Suid-Afrika is werkloos gelaat terwyl talle besighede hulle deure moes sluit as gevolg van die regering se en langdurige en onrealistiese regulasies in hul poging om die pandemie te stuit. Met buitelandse toerisme wat nog nie herstel het nie en plaaslike toerisme wat stadigaan besig is om momentum te kry, is besetting in die Thabazimbi distrik sowat 50 persent van wat dit voor die pandemie was.
Hierdie feite het na vore gekom tydens die Thabazimbi Toerisme Dag wat op 22 September by die Palanca Lodge, net buite Thabazimbi op die Klipgat-Rooibergpad aangebied is.
In sy inleiding het die voorsitter van die Thabazimbi Toerisme Vereniging, Jacques Blaauw, gesê dat ongeag die inperking het gastehuise die beste van al die komponente in die bedryf die beste gevaar.
Toerisme organisasies is as Nie-Regerings Organisasies (NGO’s) nie winsbejag nie. Daar is tien duisende NRO’s wat vir befondsing van die regering afhanklik is en duidelik nie ten volle gehelp kan word na die pandemie nie. Toerisme organisasies ondervind dat daar eenvoudig net te veel rondslomp is wat verhoed dat hul aansoeke om regeringshulp doeltreffend deur die regte kanale gekanaliseer word.
Om hierdie rede is daar talle besighede in die toeristebedryf wat staatmaak op vrywilligers gedryf deur hul passie, veral vanaf oorsee, om hulle met hul bedrywe te help. Gewoonlik kom die families ook besoek aflê om te kyk hoe hulle kinders vaar. Hierdeur word Suid-Afrika as toerisme bestemming verder blootgestel.
Die plaaslike Munisipaliteit se Geïntegreerde Ontwikkelings Plan onderskei tussen mynbedrywighede, boerdery en toerisme. Selfs hier is dit weens ’n gebrek aan fondse onmoontlik om finansiering te kry. Die meeste munisipaliteite in die land is opgesaal met groot probleme ten opsigte van basiese dienslewering, maar in Thabazimbi is daar wel iets aan die gebeur en daar moet steeds vorentoe gebeur word.
Toerisme is groot en daar is slegs enkele mense wat besef wat dit alles behels. Blaauw het genoem dat die uitdagings wat die Covid beperkings gestel het tog gelei het dat mense iets anders aangepak het en ’n sukses daarvan gemaak het.
Hy het ook mense aangeraai om ’n ander benadering tot probleme te oorweeg indien so ’n uitdaging aan jou gestel word.
Die Thabazimbi Toerisme Vereniging het juis die dag in samewerking met Waterberg Toerisme aangebied om aan hul lede aan ’n groter gehoor bloot te stel. Die redes hiervoor is ooglopend:
Die Nasionale Toerisme Organisasie het begin kennis neem van Thabazimbi Toerisme.
Marakele Nasionale Park is een van die Top-3 toerisme bestemmings in Limpopo.
Borgskappe tydens die Jakaranda City Challenge Marathon en die Marakele Marathon word raakgesien.
Die Marakele Marathon is laas in 2020 aangebied – toe het dit reeds sowat 1200 deelnemers getrek. Vanjaar sal dit heel moontlik ’n virtuele formaat aanneem. Steeds moet daar aanhou bou word vir die toekoms.
Moontlikhede vir sport-toerisme het verder toegeneem met plaaslike gimnastiek fasiliteite, ’n baie aktiewe Boogskiet Klub wat reeds verskeie nasionale byeenkomste plaaslik op hul eie baan aangebied het en skuts van wêreldgehalte lewer.
Die Thabazimbi Gholfklub het reeds voor Covid-19 moeilike tye beleef nadat die myne hulle borgskappe onttrek of gesny het. Goeie beplanning het die baan weer aanloklik gemaak en beskik die klub oor een van die besete en populêre fasiliteite in Limpopo.
Bestaande gastehuise en restaurante het hul geriewe verbeter om meer aan die bedryf te bied. Een voorbeeld hiervan is die Klipbokkie wandelroete asook die verbeterde verblyf en onthaal fasiliteite by Klipbokkie. Voeg hierby Khaya Kwa en Die Plaasjapie Restaurant. Khaya Kwa se werkers het gehelp om die restaurant feitlik oor uit te lê toe hulle gedwing was om hul deure te sluit en Plaasjapie het tydens die Inperking sy deure oopgemaak as ’n baie gewilde kuierplek.
Die Reptielpark naby Marakele trek steeds al hoe meer besoekers en Sydney’s African Wild Safari’s, met ’n heel nuwe benadering, om gaste van ander lodges of gastehuise te vervoer en besig te hou en hopelik hul verblyf plaaslik te verleng. As voormalige bekroonde veldwagter in Marakele Nasionale Park, is sy daaglikse toere binne die park, met hom as gids, besig om in gewildheid te groei.
So is daar nog baie ander wat tydens die Corona Inperking tot stand gekom het. Alles moontlik gemaak deur mense wat van die geleentheid gebruik gemaak het om iets anders vir hulself te doen.
Ter afsluiting het Blaauw mense in die bedryf aangemoedig om te gaan na waar daar energie is. Dit is waar jy sukses sal behaal.
Die Thabazimbi Toerisme Vereniging kan gelukgewens word met die verwesenliking van baie van die doelwitte en uitdagings wat tydens die vorige werkswinkel aan die bedryf gestel is (Pre-Covid-19 Lock Down).