Blou Golf tref Thabazimbi
’n Blougolf het die dorp Dinsdag 21 September getref toe die DA-raadslede en kandidate in die komende munisipale verkiesing hul plakkate in die dorp aangebring het.
Verskeie ondersteuners in blou hemde geklee het langs die paaie die DA se sigbaarheid vergroot terwyl motoriste hul steun duidelik getoon het met toeters wat aanmekaar geblaas het.
Die DA se Burgemeesterskandidaat, Tokkie Swanepoel, raadslid vir Wyk 2, se burgemeester kandidaatskap is ook bekend gemaak met plakkate wat dit uitbasuin het. Tokkie het durf aan die dag gelê deur self die leer te bestyg en haar plakkaat heel bo-aan ’n string van plakkate aan te bring.
Raadslid Tokkie Swanepoel het self die leer bestyg om haar Burgemeesterplakkaat heel boaan die ander plakkate vas te maak. Desirée van der Walt, DA adjunk-skaduminister van basiese onderwys en lid van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika het die Blougolf deur Thabazimbi, waartydens DA se verkiesingsplakkate opgesit is, meegemaak. Op die foto is van Links Raadslid Tokkie Swanepoel, Desirée van der Walt, Raadslid Thana Hearne, Terry Herholdt van Dwaalboom en Theuns Lensley. Deel van die groep DA ondersteuners wat deel van die Blougolf uitgemaak het. Raadslid Tokkie Swanepoel, DA Burgemeester kandidaat vir die komende munisipale verkiesing, hou haar plakkaat vas waar sy tussen die talle DA ondersteuners wat die Blougold meegemaak het, staan.
Desirée van der Walt, DA adjunk-skaduminister van basiese onderwys en lid van die Nasionale Vergadering van Suid-Afrika, geen onbekende in die dorp en omgewing nie, was ook deel van die Blougolf wat die dorp getref het. Die aansluiting van Elandstraat en Warmbadweg was die hoogtepunt van die geleentheid waar talle mense in Blou T-hemde hul stem laat hoor het.
Tokkie Swanepoel is steeds voorsitter van die Thabazimbi Belastingbetalersvereniging, ’n posisie wat sy reeds vir etlike jare vul. Hier het sy goeie ondervinding opgedoen van probleme wat die dorp in die gesig staar, hoofsaaklik weens wanbestuur van die vorige raad wat hul magsposisie gedurende die munisipale verkiesing van 2016 verloor het. Gedurende 2019 is Tokkie tot raadslid vir Wyk 2 verkies en het sy direkte ondervinding opgebou van die stryd wat binne die munisipaliteit duur om besluite tot voordeel van die inwoners te neem en deur te voer.
Toe die koalisie na afloop van die 2016 verkiesing beheer oorneem was dit van ’n totale bankrotspul met alle kantoortoerusting, rekenaars ingesluit asook alle munisipale toerusting en voertuie wat deur die balju beslag op gelê is. Hulle moes van vooraf alles opbou maar hulle het ten minste ’n einde aan die openlike wanbesteding van fondse gebring.
Inwoners is skynbaar onder die indruk dat die DA in Thabazimbi aan bewind is.
Dit is egter nie die ware toedrag van sake nie. In die Raad het die DA tans 5 setels, EFF 5, TRA 2 en die VF+ 1. Hierdie koalisie regeer gesamentlik en nie altyd onder maklike omstandighede nie.
Die Uitvoerende Komitee, waar besluite deurgevoer word, word saamgestel op grond van die suksesse wat die onderskeie partye gedurende die 2016 verkiesing behaal het.
Die Uitvoerende Komitee bestaan tans uit die ANC (2 lede – Party met die meeste stemme behaal), EFF (1 lid – Party met die derde meeste stemme) en Thabazimbi Residents Association (1 lid – Burgemeester).
Toe die koalisie na afloop van die 2016 verkiesing gevorm is, is die posisie van die Burgemeester, Speaker en Hoofsweep tussen die koalisie-vennote onderhandel. Die DA het die Speaker- en die Hoofsweep-posisies gekry en die TRA die Burgemeester.
Alle inwoners is deeglik bewus van die finansiële gemors en bankrotskap wat hierdeur op Thabazimbi afgedwing is deur korrupsie, wanbesteding en wanbetalings van die Eskom en Magalies waterraad rekenings wat tot die huidige skuldlas, wat steeds afbetaal word, aanleiding gegee het.
Die koalisie tussen die DA, VF Plus, EFF en die TRA het verseker dat ooreenkomste met hierdie verskaffers bereik is om op ’n sinvolle manier die rekenings te vereffen en te verseker dat die dienste nie afgesny word soos daar gedreig is op die stadium dat die vorige ANC-beheerde raad hul magsposisie verloor het nie.
Raadslid Swanepoel het ’n beroep op stemgeregtigdes gedoen om hul stemme uit te bring. Stem met die verstand deur bogenoemde in ag te neem en nie met die hart soos jy voel jy ‘nie jou gewete mag verkrag nie’. Ongelukkig is daar ’n stelsel waarvolgens besluite deurgevoer word wat slegs kan verander indien die party wat reeds gewys het dat veranderings moontlik is, sy verteenwoordiging op die raad kan vergroot. Die DA het reeds deur die koalisie bewys dat dit moontlik is.
Sy het afgesluit deur te sê. “Moenie wegbly nie, bring asseblief jou stem uit, maar moet nie stemme verdeel sodat die voordeel wat nou bestaan verlore gaan en die raad terugkeer na die situasie van voor die 2016 verkiesing, waar bankrotskap en swak dienslewering ons besliste lot sal wees nie.”