DA loods petisie om Afrikaans as inheemse taal te erken
Die Demokratiese Alliansie (DA) het ’n petisie van stapel gestuur vir die regering om Afrikaans amptelik as ’n inheemse taal te erken. Die petisie is gerig op die Minister van Hoër Onderwys en Opleiding, Blade Nzimande, in reaksie op sy klassifisering van Afrikaans as “uitheems” in sy departement se Beleidsraamwerk vir Hoëronderwysinstellings.
Die petisie eis dat Nzimande dadelik die definisie van inheemse tale aanpas om Afrikaans in te sluit, dat hy die Afrikaanssprekende gemeenskap in die openbaar en onvoorwaardelik om verskoning vra vir sy optrede, en dat hy openbare universiteite versoek om hul taalbeleide aan te pas om ruimte te skep vir Afrikaans se status as inheemse taal.
Nzimande volhard met die haatlike, kwetsende en onwetenskaplike klassifisering van Afrikaans as “uitheems” ten spyte van die Grondwethof se eenparige uitspraak in die onlangse Unisa-hofsaak, waartydens regter Steven Majiedt uitdruklik daarop gewys het dat die begrip “inheemse tale” ook Afrikaans insluit.
Majiedt en die volbank regters het verder daarteen gewaarsku dat “die wanopvatting van Afrikaans as ‘die witmense se taal’ en ‘die taal van die onderdrukker’…’n skreiende wanvoorstelling van die taal en die ware oorsprong daarvan [is]. Dit verg herhaling dat Afrikaans tans oorheersend die taal van swartmense is. En dit word gebesig deur swartmense, nie net in sogenaamde “bruin” woonbuurte nie, maar ook in baie swart woonbuurte in verskeie streke van ons land.
Volgens Dr Leon Schreiber LP – DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch, het die DA reeds ’n klag oor Nzimande se definisie van Afrikaans as “uitheems” by die Menseregtekommissie ingedien, omdat die DA glo dat die klassifisering inbraak maak op die reg van die diverse Afrikaanssprekende gemeenskap tot moedertaalonderrig, gelykheid en waardigheid. Die definisie skep ook die indruk dat die ANC regering die sprekers van Afrikaans as “uitheems” of op die een of ander manier “vreemd” aan Suid-Afrika beskou.
In reaksie het Nzimande hom skuldig gemaak aan presies die soort “skreiende wanvoorstelling” waarteen regter Majiedt gewaarsku het, deur besware teen die klassifisering as “rassisties” en “nasionalisties” af te maak.
Die DA moedig alle Suid-Afrikaners aan om hierdie petisie te onderteken, waarna die DA dit aan Nzimande sal oorhandig met die eis dat Afrikaans sy regmatige plek inneem as ‘n volwaardige, inheemse Suid-Afrikaanse taal.
Klik gerus op enigeen van die skakels hieronder by “Related” om meer oor die “Wonder” oor Afrikaans te wete te kom.