Virtuele pretlope hou dié twee aan die gang
Wat gedoen as jy weens die inperking beperkinge nie meer aan jou geliefde tydverdryf mag deelneem nie? Maklik: Bring die werklikheid na jou toe.
Pretlope of –draf is gewoonlik ’n baie saambindende faktor vir gesinne en vriende. Wat is nou lekkerder om so saam gestraf te word en die opwinding te ervaar sodra jy dit voltooi het. Vir baie mense het hulle daaglikse stap of draf ’n roetine geword wat ewe skielik tot ’n einde gekom het saam met die Coronavirus pandemie.
Nou dat beweging buite die huis nie meer so ’n probleem is nie, is daar ’n oplossing; virtuele deelname aan pretlope, en dit is juis dit wat Michell Loubser en haar jare lange pretloop- en oefenmaat, Jean Bester, van Thabazimbi besluit het om te doen.
Die twee het reeds 6 jaar gelede begin om verskeie pretlope en Park Runs aan te pak, een daar van die gewilde Marakele Run on the Wild Side pretloop tydens die jaarlikse half- en vol Marathon wat binne hierdie Nasionale Park by Thabazimbi afgelê word.
“Tot dusver het ons nog nie ’n persoonlike rekord tydens die Wild Side pretloop opgestel nie”, sê Michell, “gelukkig was ons nog nie deur ’n leeu of een van die ander wilde diere in die park aangemoedig om dit te doen nie.”
Michell het op haar eie reeds aan 27 Park Runs deelgeneem. Die inperking het egter ’n demper hierop geplaas. Gelukkig is daar die virtuele pretlope wat steeds meer as net die oefening verskaf.
“Dit kan ’n bietjie vervelig raak om net te gaan stap en voel dat jy nie veel bereik het nie. Jy lewe jou maar in tydens die virtuele pretloop, kompleet asof jy dit in werklikheid doen.”
Net soos tydens amptelike pretlope, skryf jy daarvoor in en word ’n nommer aan jou toegeken. Met die aanvang van die pretloop neem jy sommer ’n selfie of as jy iemand het wat saamloop of draf, foto’s van mekaar met jou nommer vasgespeld. Jy neem self jou tyd met skermskote op jou selfoon sodra jy wegspring. Die prosedure word herhaal sodra jy die wedloop voltooi het.
Indien jy oor ’n slimfoon beskik, is dit al wat jy nodig het om die foto’s, tye en afstand voltooi asook jou roete sommer direk van jou selfoon af na die organiseerders te stuur. Daar is heelwat ander inligting wat die selfoon, afhangend van die gesofistikeerdheid daarvan, ook vir jou kan gee soos aantal kalorieë verbrand, op-en afdraandes, ens.
Op hierdie manier kan jy die Knysna, of enige ander pretloop wat virtueel aangebied word sommer op een van die grondpaaie in die omgewing of deur die woongebied aflê terwyl jy jou verbeel jy is elders op ’n ander plek.
Die twee het onlangs beide die PUK 5km en die Knysna 10km Pretlope afgelê sonder om Potchefstroom of Knysna toe te ry. “Jy voel jy is deel van die opwinding met die voorbereiding, die wegspring en die einde,” sê Michell.
Nie al die wedlope is gratis nie en met die pretlope waar inskrywingsgeld wel betaalbaar is, word fondse gewoonlik vir een of ander liefdadigheid aangewend en kan jy soms selfs ’n medalje ontvang dat jy die pretloop voltooi het.
Michell vertel verder dat hulle op Facebook na sulke virtuele pretlope begin rondsoek het nadat hulle gesien het dat jy aan die Comrades Marathon op dié manier kan deelneem.
Om verder fiks te bly, ry die twee een keer per week met hulle fietse uit tot by die kruispad verby Marakele, ’n heen-en-weer rit van 27km in totaal.
Indien iemand sou belangstel om iets soortgelyks te doen, is hulle welkom om Michell te skakel by 083 741 0116 vir meer inligting.
Michell sê dat met hierdie as motivering let sy meer op ’n gesonder dieet en het sy reeds ’n paar kilo’s in die proses afgegooi.