General

Ou Inwoner vier 94ste verjaarsdag in Tambotie

Sekerlik een van Thabazimbi se oudste inwoners, tannie Anna Scheepers, het Donderdag 2 Julie haar 94ste verjaarsdag gevier. Weens die inperking was daar ongelukkig nie een van haar kinders of familie teenwoordig nie, maar elkeen in Tambotie het ’n kolwyntjie ontvang om die dag saam met haar te vier.

Tannie Anna se man, ds Giep Scheepers, was sedert 1953 predikant van Matlabas Gereformeerde Kerk wat in kombinasie met Thabazimbi en Drieviersboom (Dwaalboom) was. Gedurende die laat vyftigerjare het Thabazimbi gemeente as volwaardige gemeente afgestig met ds Giep as predikant terwyl hy steeds die ander twee gemeentes bedien het.

Tannie Anna vertel dat die kerkgebou op Thabazimbi toe nog nie gebou was nie en eredienste is toe in die YSKOR bioskoopsaal gehou. Die saal was ook die enigste fasiliteit waar danse en ander partytjies aangebied is en die ballonne het menige Sondagoggend steeds teen die mure as versierings gehang as hulle vir die erediens opdaag.

Tannie Anna Scheepers wat Donderdag 2 Julie haar 94ste verjaarsdag gevier het in die Tambotie versorgingseenheid op Thabazimbi. Tannie Anna is die weduwee van wyle ds Giep Scheepers, predikant van die Gereformeerder Kerk Thabazimbi (1953 – 1984).

Anna (Botha) het op die Vrystaatse plaas, Gruiskop in die Trompsburg omgewing grootgeword. Sy was een van elf kinders en net sy en ’n ouer broer, Professor Louis Botha (100), is die enigste oorlewendes van al die kinders. Professor Botha was verbonde aan die teologiese kweekskool te Hammanskraal en bly tans by sy dogter en haar familie in Pretoria.

Die plaasskooltjie naaste aan Gruiskop is waar sy haar skoolloopbaan begin het. “Ons kinders is elke dag met die donkiekar heen en weer vervoer”, vertel sy. Die skooltjie is egter gesluit en sy het toe beide haar laer- en hoërskoolloopbane op Trompsburg, as koshuisleerling, voltooi.

Ds Giep was eers in die onderwysberoep terwyl hy die nodige BA-grade vir toelating tot die Teologiese kweekskool op Potchefstroom deur Unisa verwerf het. Dit is ook dan hoe hy in ’n stadium op die plaas Henningspruit naby Trompsburg skoolgehou en hy vir tannie Anna, wat reeds op hoërskool was, ontmoet het. Voordat hy daar weg is het hy alreeds haar pa se toestemming gevra om met haar te trou.

Gedurende 1942 het ds Giep toelating tot die Teologiese skool ontvang en gedurende 1943 is die twee dan ook getroud. Hy het sy studie einde 1947 op die ouderdom van 30 voltooi.

Om vir sy studies te betaal het ds. Giep vir oom Hennie Havenga as huurmotorbestuurder op Potchefstroom gewerk, as hy nie klas gehad het nie. Dit het later so goed hiermee gegaan dat hy een van oom Hennie se huurmotors gekoop het en sy eie huurmotor besigheid bedryf het. Hy het later verder uitgebrei deur nog twee huurmotor te koop en twee bestuurders aangestel wat vir hom gewerk het.

Ds Giep was dan ook die eerste student aan die teologiese skool wat oor sy eie wiele beskik het.

Vir die eerste jaar van die huwelik het hulle in die omgewing van die Mooirivier in Potchefstroom geloseer en toe later ’n huis in Mareestraat, nader aan die hoofdorp gehuur. Die eerste twee dogters, Maretha en Hannetjie, is ook hier in Potchefstroom gebore.

Nadat hy beroepbaar gestel is het ds Giep die beroep na die kombinasie Ermelo, Barberton en Carolina aanvaar. Vir die jong pastoriemoeder het dit maar swaar gegaan aangesien sy kinders moes grootmaak terwyl die predikant weens die uitgebreide kombinasie baie van die huis afwesig was.

Weens die gebrek aan voertuie en paaie was dit nie moontlik dat almal Sondae by die kerk kon uitkom nie en het hy wyks-dienste gehou soos hy die wyke besoek het. “Tydens nagmaal is die wa-en-osse ingespan en het die families op die kerkterrein kampeer, die enigste geleentheid dat die gemeente voltallig was.”

“Telefone, veral in die boerdery gemeenskappe, was skaars en ek het nie altyd kontak met my man man gehad nie, sou een of ander probleem tuis of in die gemeente opduik.”

“Destyds was daar maar min riglyne vir die eggenote van die leraar, veral in hierdie afgeleë gemeenskappe”, en sy sê sy het onwetend maar al die probleme wat sy ondervind het as uitdagings aanvaar en gereken het dat dit maar so moes wees.

Rieme moes redelik dun gesny word met die £500 jaarlikse toelaag wat die predikant ontvang het.

’n Nuwe lidmaat het eendag aan ds Giep genoem wat ander predikante in ’n soortgelyke kombinasie beroepe verdien. Toe Matlabas hom kort daarna as predikant beroep en met die £200 meer per jaar wat hulle aanbied, was hy gereed om die beroep te aanvaar.

Matlabas kerk was in die middel van nêrens op die klein gehuggie, Matlabas sowat 20km vanaf Sentrum, wat bestaan het uit die kerk, ’n rollermeule en winkel. Daar was nog geen pastorie vir die leraar en sy gesin nie en die vorige leraar van die gemeente, ds Willem Postma, het toe hy die beroep na Matlabas aanvaar het, die versoek gerig dat die pastorie eerder op Thabazimbi gebou moet word waar sy kinders nader aan die skool sou wees. Dit is ook gedoen en hy en sy gesin het die pastorie aan die buitewyke van die dorp, langs die ou Thabazimbi polisiestasie aan die einde van Vierdelaan, betrek.

Toe die Scheepers herderspaar dus na Matlabas oorgeskuif het, was die pastorie reg om deur hulle betrek te word. Hier het hulle gebly, ook nadat hy uit die gemeente op pensioen afgetree het in 1984 tot en met sy afsterwe in 1998.

Na ds Giep se afsterwe het tannie Anna by hul seun Gideon, wat in Noordwes saam met sy gesin geboer het, ingetrek. Hulle Kerk was in Koster en eendag op navraag by die kerk oor die gerieflike klein huisies wat op die kerkterrein opgerig is, is daar genoem dat die huisies vir die ouer mense van die gemeente bedoel was. Tannie Anna het net daar en dan besluit sy gaan intrek en vir baie jare het sy in die klein gemeenskappie gewoon.

Volgens haar het die Here die besluit sowat 12 jaar gelede geneem het wat daartoe gelei het dat sy van die huisie moes afsien. Dit het gepaard gegaan met ’n val waartydens sy haar been gebreek het. Sy is in ’n hospitaal in Rustenburg behandel waar die been gespalk is.

Toe sy ontslaan is kon sy nie teruggaan na haar huisie nie aangesien sy versorging nodig sou hê terwyl haar been herstel. Sy is toe in Tambotie Versorgingseenheid op Thabazimbi opgeneem en nadat die been voldoende herstel het, is sy oorgeplaas na Huis Immergroen, wat op daardie stadium by Bosveld Oord Thabazimbi in gebruik geneem is om na ouer mense, wat nie verswak is nie maar net nie in heeltemal in staat is om vir hulle self te sorg nie, om te sien.

Sy sê dat alhoewel sy lekker in haar eie huisie op Koster gebly het, sou sy met Gideon se vroeë afsterwe nie een van haar kinders naby haar hê nie. Hier op Thabazimbi het sy darem haar seun Louis wat in die omgewing boer en wat haar ook kom besoek. Die ander kinders is steeds ver maar hier op Thabazimbi is daar darem meer ou kennisse en vriende.

Soos sy addisionele versorging oor die jare meer benodig het en die ryloper meer gebruik het om oor die weg te kom, is daar besluit dat sy weer na Tambotie versorgingseenheid oorskuif waar daar meer aandag aan haar persoonlik behoeftes geskenk kan word. “Ek glo dat die Here wel ’n plan hiervoor vir my het, ek weet nog net nie wat die plan is nie.”

Tannie Anna sê dat waar sy voorheen baie gehekel en gelees het, begin sy nou gou moeg raak en sy gaan stap eerder met haar ryloper in die stukkie tuin langs die sentrum.

Buiten vir die inperking, is tannie Anna se ander kinders ook maar ver van Thabazimbi woonagtig en verg dit redelike moeite en geld om vir haar te kom kuier.

Hannetjie bly op Bethulie waar sy met ’n predikant getroud is. Sarie, ’n afgetrede onderwyseres bly op Brakpan en Jacomien bly in Pongola.

Buiten vir Louis is die ander seuns almal goed oorsee gevestig. Lukas is ’n Gereformeerde predikant in Kanada (en op versoek van sy gemeentelede preek hy steeds in Afrikaans), Bennie is ’n gekwalifiseerde Apteker in Amerika en Johannes is ’n senior uitvoerende beampte by een van die myne in Kanada.

Tannie Anna se geheue is goed en sy is gesond. Soos almal voel oor die inperking, sal sy ook graag ’n bietjie wil uitkom om by die kinders te kuier.

Lokfoto: Die Gereformeerde Kerkgebou op Matlabas. Die foto is gedurende die 50-tiger jare geneem toe baie van die gemeentelede steeds met hul ossewaens tydens nagmaal na die kerk opgetrek het en vir die naweek daar tent opgeslaan en gekamp het.Foto: Internet