General

Remme kraak voor bus deur heining bars

’n Inwoner in Eerstelaan Thabazimbi het Donderdag die skok van haar lewe gehad nadat ’n bus deur die erf se heining gebars en sentimeters van die huis af tot stilstand gekom het.

Mev Hester Gouws vertel dat sy vroegmiddag, omstreeks 15:30, gehoor het hoe ’n bus teen Hospitaalstraat uitry om passasiers af te laai. Sy het daarna gehoor hoe die bus se tru-waarskuwings toetertjie vir ’n tyd lank aanmekaar piep.

Sy kon die bus nie van die voorkant van die huis sien nie en het omgeloop na die kombuisdeur waar sy toe deur die paalheining kon sien dat die busbestuurder uiteindelik daarin geslaag het om die bus in die beperkte ruimte om te draai en dat die bus nou weer met sy neus afdraande staan.

Hester Gouws aan die agterkant van die huis waar die bus rakelings die afdak oor die agterste stoep gemis het.

Die passasiers het intussen afgeklim en dit is toe dat sy die kraakgeluid hoor van soos wanneer wiele teen remdromme beur.
Die volgende oomblik was dit net ’n groot lawaai met die bus wat tussen twee maroelabome deur, oor die sypaadjie en deur die erf se heining bars en voor haar oë verby op die huis afpyl.




Foto links: Die wastrog aan die straat se kant teen die huismuur het die bus se vernietigingsvaart gestop waar dit letterlik sentimeters van die badkamermuur af tot stilstand gekom het.

Daarna was daar net stilte terwyl iemand, die enigste insittende, uit die bus klim. Hester het vermoed dat dit die bestuurder was wat op haar vraag aan hom gesê het dat die bestuurder buite die bus is.

Sy sê dat ’n ambulans later ’n beseerde persoon, vermoedelik die busbestuurder, vanaf die toneel verwyder het. Geen inligting aangaande die aard van die beserings wat die persoon opgedoen het, is bekend nie.

Die bus, wat deur Thaba Trans aan ’n myngroep uitgekontrakteer is, het vermoedelik mynwerkers, wat tydens die grasietydperk vanaf hulle wonings teruggekeer het om hul werk by die myn te hervat, na behuising waar hulle hul kwarantyntydperk moet deurbring te vervoer nadat hulle by die myn vir Covid-19 besmetting geskandeer is.

Die oorsaak van die ongeluk is nie bekend nie, aangesien die bestuurder van die bus nie een van Thaba Trans se bestuurders was nie deurdat die myn hul eie bestuurders verskaf.

Die ou Thabazimbi hospitaalgeboue is in onbruik sedert die opening van die nuwe provinsiale Thabazimbi Hospitaal in Regorogile en die verskuiwing van MediClinc Hospitaal na ’n nuwe perseel. Die verskuiwing is genoop deur die beperkte spasie vir verkeer en uitbreiding van fasiliteite op die perseel van die ou hospitaal.

Toe Kwêvoël die toneel besoek het, was Thaba Trans personeel besig om die bus met behulp van twee vragmotors uit die erf te verwyder.