Health

Eerste geval in SA van Koronavirus in KZN gediagnoseer

Die eerste geval van ’n persoon in Suid-Afrika wat positief vir die koronavirus gediagnoseer is, is vandag 5 Maart 2020 deur die Departement van Gesondheid bevestig.

Die 38-jarige man en sy vrou wat saam met hom na Italië gereis het, het twee kinders. Hulle name is nie bekend gemaak nie.

Volgens die Departement van gesondheid het die paartjie van KwaZulu-Natal, wat deel was van ’n groep van tien wat saam gereis het, op 1 Maart terug in Suid-Afrika geland en daarna na hulle huis teruggekeer.

Op Dinsdag 3 Maart het die man ’n dokter besoek aangesien hy griep-verwante simptome, insluitend hoofpyn, koors en ’n hoes begin ontwikkel het. Hy is positief vir die COVID-19 virus getoets en is terug na sy huis waar hy en sy vrou onder kwarantyn geplaas is. Die dokter wat hom ondersoek het is ook in isolasie geplaas.

Mediese spanne sal daagliks besoek aan die egpaar bring om hulle te monitor.

Die Nasionale Instituut vir Aansteeklike Siektes (NICD), ’n afdeling van die Nasionale Gesondheid Laboratoriumdienste, het beklemtoon dat die feit dat ’n nuwe geval so vinnig geïdentifiseer kon word bewys is dat die instituut oor die nodige kennis beskik.

Die geval is ’n geïsoleerde voorval en maatreëls om dit te beperk is reeds ingestel. Hulle sê verder dat daar kennis geneem moet word dat een ingevoerde voorval deur ’n reisiger vanuit ’n gebied waar verskeie voorvalle van mense is wat positief daarvoor toets, nie beteken dat COVID-19 tans besig is om deur al die gemeenskappe in Suid-Afrika te versprei nie.

Die NICD beklemtoon dat volgens beskikbare data die meerderheid van COVID-19 gevalle die siekte nie so erg ervaar nie. Die erge gevalle is waar ouer persone en die wat reeds aan verskeie kwale lei wat hulle weerstand beïnvloed, die risiko loop om asemhalings probleme te ontwikkel.

Hulle het ook ’n beroep op die publiek gedoen om die risiko te verminder om die siekte op te doen deur goeie hand hygiene toe te pas deur gereeld hande te was, te sorg dat jy nie kieme versprei as jy hoes nie, tuis te bly indien jy siek is en mense met asemhalingsiektes te vermy.

Met die griepseisoen wat vir Suid-Afrikaners voor die deur lê, het hulle ook ’n beroep op mense gedoen om griepinspuitings te kry sodra die griep-inentings beskikbaar is aangesien die simptome baie dieselfde as die van griep is.

Dit is veral van toepassing op mense wie se weerstand teen siektes afgebreek is en sluit in ou en sieklike mense, asook HIV positiewe persone en swanger vroue.