21 Mense dood die naweek in twee afsonderlike padongelukke
Altesaam 21 mense het Sondag gesterf in twee afsonderlike ongelukke op Suid-Afrika se paaie.
In die nuutste ongeluk, wat Sondagoggend net na 06:00 gebeur het naby die Chuene Vakansieoord toe ’n 7-sitplek motorvoertuig met ’n kontant transito-voertuig gebots het, is 11 mense dood.
Die pad was afgesper vir die tydperk wat die polisie die toneel ondersoek het.
Volgens die woordvoerder vir die LUR vir vervoer, Seabi Joël, is dit is steed onduidelik wat die ongeluk veroorsaak het. Hy het bygevoeg dat daar bepaal moet word of voetgangers ook in die ongeluk gesterf het aangesien die sitplek kapasiteit van die twee voertuie betrokke minder is as die aantal sterftes.
Ondersoek is steeds aan die gang terwyl die proses om die oorledenes te identifiseer voortgaan.
In ’n afsonderlike ongeluk wat Saterdag omstreeks 02:00 die oggend gebeur het, is tien mense dood toe ’n bakkie op die Ou Kaapse Weg naby Steenberg gerol het.
Cape Times berig dat op daardie stadium was daar 23 mense agterop die bakkie en daar word vermoed dat die bestuurder weens foutiewe remme beheer oor die bakkie verloor het.
Die bestuurder van die voertuig is onder polisie beskerming in die Groote Schuur Hospitaal opgeneem en volgend die SAPD woordvoerder, André Traut, word ’n saak van manslagting ondersoek aangesien die bestuurder na bewering probeer het om van die toneel af weg te vlug.
Volgens die ER24 woordvoerder, Werner Vermaak, het die paramediese span nege mans op die toneel aangetref het wat in die ongeluk omgekom het terwyl een persoon dood is op pad na die hospitaal.
Hy het verder genoem dat drie persone ernstig beseer is terwyl 11 ander geringe beserings opgedoen het.