Health

Lees jy genoeg? – 36 Jaar vir Kwêvoël

Papier of digitaal – Beide het voordele

Dit is geen geheim dat lees goed vir jou is nie. Na bewering is slegs ses minute se lees genoeg om jou stresvlakke met tot 68% te verlaag – hiermee wil ek nie maklik saamstem nie aangesien my werk hoofsaaklik uit lees bestaan en my stresvlakke steeds hemelhoog uitstyg.

Daar is tog ‘n rede dat ek hiermee kan saamstem. My leeswerk behels bykans 100% digitaal vanaf ’n rekenaar-, selfoonskerm of digitale boek (Kindle). Die enigste rede wat my geforseer het om weer gedrukte boeke te lees was die feit dat ek al die boeke op die Kindle gelees het, sommige vir die tweede keer, hoofsaaklik omdat ek die gedrukte weergawe ’n tyd gelede gelees het en ander kere omdat ek eenvoudig nie die storielyn van die boek wat ek op Kindle gelees het, kon onthou nie.

Ek het gewoonlik, nadat ek ’n hele paar bladsy reeds gelees het, besef dat ek hierdie boek reeds gelees het, maar dan tog besluit om voort te lees omdat ek nie kan onthou hoe die boek geëindig het nie.

As ek moet terugdink het, was die eintlike rede hoekom ek die boeke wat ek oorspronklik in die gedrukte formaat gelees en weer op die Kindle gelees het, nie omdat ek nie die storie kon onthou nie, maar omdat ek oorspronklik meer vir die storie gelees en nie maar die geskiedkundige inhoud en die tussenwerking tussen karakters totaal misgelees het.

Ongeag gedruk of digitaal, het ’n studie (weereens dalk ongegrond maar tog geloofwaardig) getoon dat mense wat gereeld lees, en hier maak die medium wat gebruik word nie saak nie, twee en ’n half keer minder kans het om Alzheimer’s op te doen as diegene wat min of glad nie lees nie.

Die debat tussen Kindle en gedrukte boeke is hewig tussen die twee mediums sedert die eerste Kindle in 2007 die lig gesien het. Alhoewel meer klem gelê is op die sentimentele versus die praktiese, tussen die gevoel van papier en die praktiese gerief vir E-lesers, het die wetenskap ten gunste van die gedrukte boek beslis.

Deurdat ek steeds af en toe gedrukte boeke gelees het, het ek besef dat ek wel die storielyn beter kan onthou. Volgens my is dit makliker om terug te verwys in die gedrukte boek om ’n gebeurtenis of karakter te hernu indien jy die draad begin verloor. Gewoonlik weet jy omtrent hoe ver om terug te blaai om die insident of die karakter weer op te tel en jou geheue te verfris.

Met die Kindle is dit nie moontlik nie – daar is nie bladsye nie – net persentasie gelees. Jy kan nie die gevoel kry van terugblaai nie. Ek kan eenvoudig nie verder lees indien hierdie inligting my ewe skielik ontgaan nie. Dit is beslis baie omslagtig om terug te verwys in die Kindle en dan weer jou oorspronklike plek te kry waar jy laas gelees het. Ek skat daar is maniere om ’n bladsy te oormerk maar al die kere wat ek dit probeer het, het ek nie net my boek se titel verloor nie, maar ook die skrywer se naam!

Dan is dit behoorlik ’n soektog om jou boek weer op te spoor nadat jy deur al die honderde titels en dosyne outeurs gesoek het. Dit is nie om net jou boek te oormerk en langs jou op die bedkassie te sit as jy gaan slaap nie. Dit is ’n hele boekrak vol boeke wat jy moet deursoek voordat jy verder kan lees.

Die rede hiervoor is blykbaar omdat ons verstand nie eintlik ontwerp is om te lees nie, maar soos ons ontwikkel het, het dit begin aanpas om nuwe netwerke te vorm om letters en teks te verwerk en te verstaan. Jou brein gebruik die teks om ’n beeld te skep wat jou in staat stel om die posisie daarvan asook die woorde op die spesifieke bladsy in die boek maklik op te spoor.

Die fisiese gevoel van selfs die dikte van die papier waarop dit gedruk is soos jy deur die storie vorder tot die spesifieke teks op die bladsy wat jy lees, speel ’n rol om hierdie beeld te vorm.

Met ‘n E-boek kry die leser nooit hierdie gevoel nie, en die beeld in jou brein is beperk tot die bladsy wat jy besig is om te lees. Dit kom amper daarop neer as om elke bladsy wat jy lees in die gedrukte boek te oormerk. Dit sal jou langtermyn geheue beïnvloed om die teks te kan onthou aangesien daar te veel beelde geskep is om spesifiek teks te kan onthou.

Sommige lesers vind dit moeilik om ’n roman van voor tot agter te lees en hulself in die storielyn te werp. Die antwoord hierop is blykbaar ’n stadige-leesmetode deur jouself vir 30 tot 45 minute af te sonder en te lees sonder die afleiding van moderne tegnologie. Op hierdie manier dwing jy weer jou brein om sin-vir-sin (of lyn-vir-lyn) te lees in plaas van die digitale neiging om die bladsy te skandeer.

Hierdie neiging dra dan ook blykbaar by tot die feit dat ’n kort en ontstellende storie in ’n digitale weergawe minder empatie by die leser wek as wat die storie in die gedrukte media by die leser sou gedoen het. Dink maar self hoe vlugtig jy na beeldmateriaal van motorkapings, en waar gewelddadighede op Twitter en Facebook vasgelê word, kyk. Jy kan kommentaar op dit wat jy gelees het lewer en daarmee saam as klaar verwerk in die snippermanjie gooi.

Ongelukkig het die gedrukte media, boeke, tydskrifte en selfs koerant, onbekostigbaar duur geword.

Kwêvoël, vier op 15 Augustus 2019 sy 36 bestaansjaar as nuusdraer in die Thabazimbi Bosveld omgewing. Vir die afgelope drie jaar is Kwêvoël geforseer om sy digitale vlerke  uit te sprei juis as gevolg van die swak ekonomiese toestande in die land, duur produksiekoste om die koerant plaaslik op Kwêvoël se eie drukperse te druk asook die byna onbekombaarheid van vlakdrukpapier in Suid-Afrika om die koerant op te druk. Duurder papier moes uiteindelik gebruik word. Die prys van hoë gehalte foto’s op kwaliteitpapier gedruk, het eenvoudig te duur geword

Om van rolperse gebruik te maak is nie lonend nie aangesien ’n drukoplaag van tussen 10 000 en 15 000 vereis word, hopeloos te veel is en nie koste-effektief was ten opsigte van die aantal inwoners in die Thabazimbi munisipale gebied nie.

Kwêvoël nou 36 Jaar oud

Kwêvoël was altyd trots op die kwaliteit van drukwerk waar Kwêvoël deur sy eie drukkery gedruk is. Die koerant is ten volle plaaslik saamgestel voorberei en gedruk en het gedurende sy bestaan etlike Nasionalevlak-toekennings op grond van samestelling, uitleg en drukgehalte losgeslaan tydens die landwye Sanlam toekennings vir laaslike koerante. Die jaarlikse Nissan-Capro toekennings (vir onafhanklike koerante wat nie onder Media24 of Caxton sorteer nie) is ook tydens dieselfde geleentheid gedoen. Hiertydens het Kwêvoël vir vier jaar toekennings as beste plaaslike koerant asook die plaaslike koerant met die beste motorbylaag (vir vyf agtereenvolgende jare) verwerf. Capro verteenwoordig steeds talle koerante regoor die land, maar sedert die gedrukte uitgawe van Kwêvoël verdwyn het, is Kwêvoël soos ’n melaatse gevra om sy aandeelhouding op te gee.

Mens kan maar net vra of hierdie toekenningsgeleenthede ooit enige toekoms visie het om ook die digitale plaaslike koerant te verteenwoordig.

Gedurende die tydperk as gedrukte koerant het Kwêvoël werk aan tien broodwinners verskaf en in die proses ook plaaslike mense, sonder enige agtergrond, as drukpersbedieners op gelei. Al hierdie mense is hul werk kwyt en het die swaar arbeidswetgewing deur die regering en die CCMA verseker dat die plaaslike drukkersbedryf totaal vernietig is.

Kwêvoël het in sy nuwe formaat daarin geslaag om ’n weeklikse volgelingsyfer van meer as 6500 op te bou. Die afgelope week het Kwêvoël meer 15 000 posopenings gehaal. Syfers wat ’n impak het op die aantal lesers wat die koerant (nuusbrief) gereeld besoek, waarvoor geen bewys daarvan in die gedrukte media bestaan nie.

Daarmee saam is advertensiekoste verlaag tot tussen 25% en selfs so min as 5% van die koste daarvan in die gedrukte media.

Kwêvoël se rol in die gemeenskap het ook verander. Ons lesers is meer verspreid en nasionale- sowel as internasionalevlak nuusberigte maak deel uit van die nuusbrief. Dit word juis gedoen omdat koerante nie meer die leser bereik nie en minder kykers getrek word na nuusdekking op TV en radiostasies.

Gaan maak gerus al die “Likes/Hou van” by berigte op Kwêvoël se Facebook-bladsy oop en klik op die lesers wat daarop reageer – jy sal verbaas wees hoe wyd hulle oor die land versprei is. Hierdie mense sien ook die plaaslike nuus en ons adverteerders raak.

Nieteenstaande dit alles, is alles ook nie verlore vir ons digitale lesers wat gereeld wegbreek om ’n gedrukte boek ook te lees nie. Hulle het beslis ’n voorsprong op die gewone digitale leser sover as wat dit leesvermoë aan betref.

Om ingelig te bly is dit egter meer voordelig om die digitale weergawe van Kwêvoël aanlyn, elke dag te lees.

Teken in op Kwêvoël – dit is gratis. Met jou e-posadres sal jy weekliks ingelig word oor nuwe berigte wat geplaas is.

Kommentaar deur Pieter Coetzee – Redakteur: Kwêvoël Sedert 1983

NS: Laat weet ons gerus en gee julle voorstelle oor wat jule meer van in Kwêvoël sal wil sien – Kortverhale, vervolgverhale, geskiedenis van Suid-Afrika, die geskiednis van Afrikaans as een van die wêreldtale waar jy op universiteit onderrig tot op die hooogste opvoedkundige vlak kan ontvang. Skone kunste, medies, ingenieurswese, elektronika, inligtingstegnologie, noem dit – daar bestaan Afrikaanse termelogie in al hierdie rigtings.