Drie Swaarvoertuig-ongelukke by en op pad na Lephalale T-aansluiting
Drie ekstra-swaar voertuie was sedert Maandagoggend 8 April 2019 en Donderdagmiddag 11 April 2019 betrokke in drie afsonderlike ongelukke in Thabazimbi. Twee hiervan was by die T-aansluiting van die Lephalale-Rustenburgpad/Warmbadweg by die Junction inkopiesentrum, en een sowat 1km verder daarvandaan, op pad na dieselfde aansluiting.

Die eerste ongeluk vir die week het Maandagoggend 8 April net na 09:30 die oggend gebeur toe ’n vragmotor gelaai met verdigte Natrium-as nie betyds by die stopstraat by die Lephalale-Rustenburg T-aansluiting by die Junction Inkopiesentrum kon stilhou nie en die vragmotor met ’n groot vaart dwars gedraai en teen die stuwal van die Thabazimbi-Lephalale treinspoor skielik tot stilstand gekom het.

Die slag was so erg dat nadat die sleepwaens tot stilstand gekom het, die kajuit verder teen die stuwal tot bykans op die spoorlyn geslinger is.
Die slag het die lewe van die bestuurder, die enigste insittende van die voertuig, geëis.
Volgens Gerrie Visagie, Thabazimbi Munisipaliteit se Ramp-bestuurder, is die bestuurder van die vragmotor op slag gedood. Aangesien hulle nie kon sien of daar enige passasiers dalk in die kajuit vasgekeer was nie, het hulle die dak afgesny om seker te maak dat slegs die bestuurder in die kajuit was.
Dinsdagoggend is daar begin met opruiming van die ongelukstoneel en die wrak is teen vroegmiddag verwyder.
’n Gedeelte van die vrag wat eenvoudig van die platbaksleepwaens afgeskuif het, was steeds op die toneel toe die volgende vragmotor, met dieselfde vrag van verdigte Natrium-as Donderdagmiddag ook nie betyds kon stop en sy vrag sommerso dwars bo-op die vorige vragmotor se vrag as afgelaai het.
Die ongeluk het Donderdagmiddag teen ongeveer 15:45 gebeur. Die passasier het beenbreuke en die bestuurder veelvuldige, dog nie-ernstige, beserings opgedoen. Beide is in die Thabazimbi Staatshospitaal vir behandeling opgeneem.
Beide hierdie vragmotors was met dieselfde tipe van vrag, waarskynlik vanaf dieselfde plek in Botswana na dieselfde bestemming in Suid-Afrika op-pad as die vragmotor wat op Vrydag 7 Desember 2018 met ’n vrag verdigte Natrium-asook nie betyds by die aansluiting kon stop en sy hele vrag teen die spoor se stuwal afgelaai het.
Geen ander voertuie was tydens die ongelukke in die aansluiting nie anders was dit beslis ’n ramptoneel.
In nog ’n ongeluk gedurende die vroeë oggendure van Maandag 8 April, het ’n tenkwa en sy perd in die omgewing van die padkamp op die Lephalale-pad teen omstreeks 04:00 ge-knipmes toe dit blykbaar in die nat weer skielik spoed verminder het.
Meer inligting oor laasgenoemde ongeluk was nie beskikbaar nie, maar volgens wat verneem word, was daar ook nie ander voertuie betrokke nie en is niemand ernstig beseer nie.