General

Vermeende selfmoordvlieënier sterf in ongeluk

Die vlieënier van ’n Beechcraft Kingair B200 vliegtuig is dood nadat die vliegtuig die grond getref en in die proses die vliegveld se klubhuis en lugtoring vernietig het, vermoedelik in ’n poging om sy vrou, wat ’n babatee-funksie in die klubhuis bygewoon het, dood te maak.

2019 24 Mrt Botswana vliegtuig 2Volgens ’n mediaverklaring deur die Matsieng Flying Club het die voorval Saterdag 23 Maart omstreeks 18:20 by die Matsieng Vliegveld, sowat 30km noord van Gaborone, in Botswana plaasgevind.

Luidens die verklaring was die oorledene as ongenooide gas vroeër die dag teenwoordig by ’n privaat funksie by die Matsieng Vliegklub gebou.

Luidens gerugte was hy en sy eggenote, wat die funksie bygewoon het, vroeër die middag betrokke in ’n huweliks dispuut.

Onraad is vermoed nadat die twee-motorige vliegtuig die middag teen omstreeks 18:15, vanuit die rigting van die Sir Seretse Khama Lughawe by Gaborone, opgedaag en teen ’n hoë-spoed uit verskeie rigtings oor die klubgebou gevlieg het.

Klublede het besef dat dit dalk nie ’n vertoonvlug was nie en dat die vlieënier dalk ander motiewe gehad het. Hulle het onmiddellik opdrag gegee dat die sowat 50 mense wat die funksie in die klubgebou bygewoon het, die gebou dadelik verlaat.

Video sensitief: Vloek

2019 24 Mrt Botswana vliegtuig 3Met die laaste, besonder lae verbyvlug oor aanloopbaan 36, enkele minute nadat die gebou ontruim is, het die vliegtuig die grond by die vliegklub getref en dié fasiliteit en beheertoring vernietig.
’n Brand het op inpak ontstaan en versprei soos die brandende wrak tussen die geparkeerde motorvoertuie ingeploeg het. Dertien van die voertuie in die parkeerarea is vernietig.

Niemand op die grond naby die ongelukstoneel is ernstig beseer nie.

Daar is later vasgestel dat die man sonder toestemming van die eienaar met die vliegtuig, wat in privaat besit is, vanaf die Sir Seretse Khama Lughawe opgestyg en na die Matsieng vliegveld gevlieg het.

Die klub noem ook dat die nooddienste van Kgatleng Distriks-raad binne minute op die toneel was om aandag aan die vuur en die erg beseerde vlieënier te verleen.

Die vlieënier is dood verklaar by sy aankoms by die hospitaal.

Die verskeie departemente betrokke, is tans besig met ’n ondersoek na die voorval.