2019 Marakele Marathon – Unieke uitdaging aan publiek en atlete
Die organiseerders van die Marakele Marathon het vanjaar met ’n wedloop wat behoorlik uit sy nate gebars het vorendag gekom. Deelnemers aan die Marathon het Saterdag 2 Maart vroeg die oggend, in lekker koel weer met ‘n Noord-Ooste wind wat met tye redelik sterk gewaai het, weggepring.
SANParke in samewerking met Coca-Cola en SANParke se Ere-veldwagters het beslis daarin geslaag om ’n unieke wedloop wat ’n uitdaging aan die publiek en die professionele hardloop-gemeenskap in Suid-Afrika bied, daar te stel.
![2019 Marakele Marathon foto Save the Rhino Bradley Schroder](https://i0.wp.com/www.kwevoel.co.za/wp-content/uploads/2019/03/2019-Marakele-Marathon-foto-Save-the-Rhino-Bradley-Schroder.jpg?resize=298%2C398)
Vanjaar is daar ook met die unieke “Groot-Vyf” uitdaging voortgegaan en was dit die beurt van die renoster. Die “Save the Rhino” taakgroep het ook met hul renostermondering saam met hul helpers aan die wedloop deelgeneem.
Volgens die Streek Kommunikasie Bestuurder van SANParks, Sipho Mkhwanazi, is daar op die “Groot-Vyf” uitdaging besluit aangesien Marakele Nasionale Park die tuiste van die Groot Vyf is. Daar is verlede jaar met die uitdaging begin en was 2018 die Jaar van die Luiperd. Na vyf jaar sal ’n spesiale gedenkmedalje uitgereik word aan deelnemers wat die al die wedlope in die “Groot-Vyf” Uitdaging voltooi het.
’n Voortdurende doelwit van SANParke se Ereveldwagters in samewerking met Thabazimbi se besigheids- en toerisme-organisasies is om die marathon as ’n jaarlikse “Anker-Geleentheid” op die Thabazimbi kalender aan te bied om fondse in te samel op ’n jaarlikse basis vir Marakele en sy gemeenskaps-aktiwiteite.
Volgens die voorsitter van Ereveldwagters, Thabazimbi Streek, Johan van der Merwe, dien hierdie geleentheid as katalisator om sport en ontspanning, sowel as gesondheid in die Thabazimbi gemeenskap te bevorder.
Coca-Cola het ’n redelike groot bedrag geskenk om te verseker dat die wedren gladweg sal verloop.
Meer as R50 000 as prysgeld was op die spel en deelnemers aan die 42,2km en 21,1km wedlope is tot 300 deelnemers elk beperk. Die 5km en 10km pretdraf het geen beperkings gehad nie.
![2019 Marakele Marathon foto HFM groep 2](https://i0.wp.com/www.kwevoel.co.za/wp-content/uploads/2019/03/2019-Marakele-Marathon-foto-HFM-groep-2.jpg?resize=521%2C390)
Die 5km pretloop was letterlik vir almal, kinders in stootwaentjies, kleuters en deelnemers van alle ouderdomme wat bietjie wou uitbreek in die natuur en daar word gereken dat sowat 1500 deelnemers in totaal aan die verskillende wedlope deelgeneem het.
Dit is juis hier waar die plaaslike gemeenskap ingespring het en as besighede en skole deelgeneem het. Total het drawwershempies en broeke by agt skole in die omgewing versprei en sommer ook die inskrywingsgeld vir deelnemende skoliere en personeel geborg.
So was daar dan ook die span van Northam Toyota, wat as deel van hul fondsinsamelingsprojek om een van hul werknemers te help betaal aan die mediese uitgawes vir die gesin se dogtertjie wat aan Sistiese Fibrose ly, aan die pretloop deelgeneem het. (Berig hieroor volg).
Verskeie plaaslike instansies het stalletjies by die Marathon bedryf om te verseker dat daar genoeg koue drinkgoed en kos vir die deelnemers en besoekers beskikbaar is.
Die amptelike uitslae is nog nie vanaf die organiseerders ontvang nie en sal saam met die wenners se foto’s geplaas word sodra dit beskikbaar is.
Sien ook die video en berig deur Wild Dog Productions Pty oor die Marakele Marathon wat vroeër op Kwêvoël se facebook bladsy geplaas is.