Northam Toyota werknemers maak harte oop met Marakele Marathon
Northam Toyota se deelname aan die afgelope Marakele Marathon se pretdraf, het meer ten doel gehad as net om deel van die dag se aktiwiteite te wees.
Hulle deelname het deel gevorm van ’n interne fondsinsamelingsprojek om een van hulle kollegas, Werner Fourie en sy vrou Cornelia, te help om hulle oudste kind, Minandi, se mediese koste te dek.
Minandi, wat op 29 Maart twee jaar oud sal wees en in Februarie ook ’n ouer sussie geword het, is gedurende Desember 2018 met Sistiese Fibrose (Cystic Fibrosis), ’n ongeneeslike siekte, gediagnoseer.
Die siekte veroorsaak dat ’n abnormale dik slym in die lyf vorm wat aan verskeie organe kleef. Die organe wat hoofsaaklik geaffekteer word is die longe, pankreas, lewer en spysverteringstelsel. Die werking van hierdie organe word verswak deur die slym wat gedwing moet word om te beweeg aangesien die liggaam nie die nodige voedingstowwe opneem nie. Dit beïnvloed die lyer se groei en gesondheid nadelig.
Waar gewone mense asemhaling as vanselfsprekend en maklik aanvaar, raak asemhaling vir CF.-lyers met tyd ’n konstante stryd en, sonder suurstof kan die liggaam nie normaal funksioneer nie.
Meeste mediese skemas bied nie dekking vir “CF” nie en is die meeste van die mediese uitgawes vir hul eie rekening. Hierdie uitgawes het vinnig begin toeneem en die gesin kon nie meer bybly om die mediese uitgawes te dek nie.
Die bestuur en personeel van Northam Toyota, tesame met vriende en familie van die Fourie gesin, het reeds ’n bedrag van R11 500 ingesamel wat vandag, Vrydag 8 Maart, oorbetaal sal word.
Die grootste gedeelte van hierdie bedrag is ingesamel deur werknemers se deelname aan die Marakele Marathon Pretdraf waardeur hulle elkeen ’n bedrag per kilometer wat hulle voltooi het, geborg het.

Northam Toyota wil hierdie positiewe en goedhartige gesin graag verder help aangesien die stryd, wat ’n lewenslange stryd is, skaars begin het.
Northam Toyota bied meer inligting op hulle Facebook bladsy aangaande die fondsinsamelingsprojek vir diegene wat sou belangstel om ’n donasie te maak, hoe klein ook al. Maak gerus ’n draai by https://web.facebook.com/NorthamToyotaRSA/ vir meer inligting.