‘n Skuurdans met ‘Wings’…
Berig en foto’s: Graad 11-ouer
Dat Thabazimbi ‘n spesiale plek is om te bly, en hoe ‘n skool se ouers en kinders hulle werk met lekkerkry kan klaarkry, is weereens bewys met die uiters suksesvolle Skuurdans wat Saterdag-aand aangebied is.
Dit is reeds jare lank tradisie vir die Graad 11’s van Hoërskool Frikkie Meyer om fondse te genereer vir hul matrieks se afskeid later in die jaar. Dié taak gaan gepaard met verskeie inisiatiewe waarvan Saterdag-aand se skuurdans een van hierdie pogings was.

Wat hierdie skuurdans uniek gemaak het, en tussen 350-400 mense ‘n aand vol herhinneringe besorg het, was onder andere sewe skape op die spit, die goeie sang en vermaak van Arno Jordaan wat as gaskunstenaar opgetree het en ‘n dansvloer omring deur helikopters en ligte vliegtuie van True North Aviation. Dit het gevoel of jy op die aanloopbaan sit en kyk hoe paartjies hulle patroon op die dansvloer hou, kompleet asof hulle wag vir toestemming om te land.
Met die bekwame “Kaptein” Isak en “Lugwaardin” Petro Joubert aan stuur van hièrdie Graad 11 fondsinsamelingsvlug, het dit letterlik gevoel of die funskie in ‘auto pilot’ vlieg en kon mense tot laat aand hulself geniet en kuier dat die propellers bewe.
‘n Kort veiling het gehelp om die matriekafskeidfonds verder te versterk, maar wat mens sal onthou van die aand is hoe die gemeenskap in hul getalle opgedaag het en jonk en oud ‘n kuierfees geniet het.
Daar is gelag en gesels, saam Arno Jordaan gesing en gedans, lekker geëet en gedrink en weereens bewys dat Bosvelders hulle werk met lekkerkry kan klaarkry.
Klik op die skakel hieronder om Arno in aksie te sien by die Gr 11 Skuurdans (Video verskaf deur Gerda Coetzee):
https://drive.google.com/open?id=0B5qvbGc3il3tVzNmUWVDT3RsSmtsd05QdFpCWjVmejEwQldZ
Hoërskool Frikkie Meyer bedank elkeen wat die funksie bygewoon het, elke Graad 11 ouer en kind wat agter die skerms die besonderse aand bymekaar gesit het en vir Jaco du Toit van True North Aviation wat as gasheer van die funksie sy deure vir ons almal oopgemaak het.