Agricultural

NERSA se tariefbesluite sal boere seermaak

Agri SA is bekommerd oor die onlangse tariefbesluite deur NERSA. Enige elektrisiteitsprysverhoging sal ‘n negatiewe impak op die landbou hê, veral in die konteks van die huidige droogtetoestande en beperkte ekonomiese groei.

NERSA het verhogings toegestaan van 9,41%, 8,1% en 5,2% (MYPD) vir die volgende drie finansiële jare – minder as Eskom se aansoek vir dubbel-syfer tariefverhogings. Vir die MYPD3 RCA-aansoek, het NERSA R3, 869 miljard goedgekeur teenoor die R21,6 miljard waarvoor Eskom gevra het.

“Hoewel ons bekommerd is oor Eskom se finansiële vermoë en besef dat tariefverhogings nodig mag wees vir Eskom om sy dienste te kan lewer, behoort daar nie van verbruikers verwag word om die las te dra nie, veral nie die landbousektor nie,” sê Nicol Jansen, Agri SA Voorsitter: Sentrum van Uitnemendheid – Ekonomie en Handel.

Agri SA het die amptelike kanale gevolg deur skriftelike kommentaar te lewer en voorleggings te maak tydens NERSA se openbare verhore. Ons het die belangrikheid van die landbou uitgelig, veral besproeiingsboerdery, asook die negatiewe impak wat tariefverhogings op die sektor sal hê. Ons het verder beklemtoon dat enige potensiële tariefverhoging slegs op elektrisiteit en nie op lyntariewe van toepassing moet wees nie. Agri SA is in die proses om ‘n vergadering met NERSA te belê ten einde hierdie aspek aan te spreek.

Agri SA gaan ook voort met sy pogings om die gebruik van sonkrag-opwekking in die landbousektor te bevorder deur weg te doen met regulatoriese en administratiewe beperkings wat verdere investering ontmoedig.