Talle dood en beseer na trein brand in Kaïro stasie
Minstens 25 mense is dood en talle ander beseer nadat ’n trein Woensdag 27 Februarie in Kaïro se hoofstasie teen ’n buffer reg langs ’n besige platform gebots en aan die brand geslaan het.
Volgens berigte het die ongeluk ’n hewige brand in die Ramses Stasie tot gevolg gehad.
Die brandweer was vinnig op die toneel om die vuur in die brandende trein te blus terwyl noodhulpwerkers op die platform beseerdes te hulp gesnel het.
Intussen berig die BBC dat Egipte se Minister van Vervoer, Hisham Arafat, ure na die ongeluk uit sy pos bedank het.
Die Egiptiese eerste minister, Mostafa Madbouli wat die toneel besoek het, het gesê dat die tragedie deeglik ondersoek sal word en dat enige persoon wat aan nalatigheid skuldig bevind word, gestraf sal word.
Egiptiese burgers kla reeds lank dat die regering nie daarin slaag om die kroniese probleme ten opsigte van openbare vervoer regdeur die land op te los nie waar paaie en treinspore beide swak in stand gehou word.
Volgens amptelike statistieke was daar sedert 2017 ’n totaal van 1 793 treinongelukke in die land.
Lokfoto: Facebook