Opwindende atletiek met HFM se Interhuisbyeenkoms
Hoërskool Frikkie Meyer se atlete het tydens die skool se Interhuisbyeenkoms Donderdag gewys dat hulle voorwaar ’n span gaan wees waarmee deeglik rekening gehou moet word tydens vanjaar se Interhoër Atletiekbyeenkoms.
Die velditems het vir ’n groot oplewing gesorg met sewe nuwe rekords wat tydens die byeenkoms opgestel is. So-ook was dit by die velditems waar atlete 800 of meer punte op die Absa 2007 tabel opgestel het.
Die byeenkoms is deur die Rooispan, wat met uitstekende naellope voor die dag gekom het en ook wenners van die massa-aflos aan die einde van die byeenkoms was, gewen en wat met die wentrofee weggestap het met ’n puntetotaal van 1005. Tweede was die Witspan met 940 punte gevolg deur die Blouspan met 861 punte.
Die Rooispan het die trofee vir die beste opkoms verower terwyl die Blouspan met die Sangbeker weggestap het.
Nieteenstaande die hitte en ’n skroeiende son het die atlete alles vir hul onderskeie spanne gegee. Die uiteindelike puntetotaal is ’n bewys hiervan en toeskouers het uitstaande en aanskoulike skoolatletiek geniet.
Hier kan mens net byvoeg dat opmerklik is dat ouer- en gemeenskaps toeskouer-ondersteuning afgeneem het teenoor wat dit 20 jaar gelede was. Al was die byeenkoms op ’n weeksdag aangebied, was dit sekerlik nie onmoontlik om ’n halfdag verlof by die werk in te sit en selfs die eienaar te oortuig om die jeug te ondersteun in wat ’n baie aanskoulike geleentheid was. Hierdie was atletiek waar ons plaaslike jeug hul beste gelewer het.

Die beste baan- en veldatlete vir die byeenkoms was:
Beste Junior Seun Baan:
Lefoko Mokwena (200m – 26 sek)
Beste Junior Seun Veld:
Edward Terblanché (Verspring – 5 meter)
Beste Junior Dogter Baan:
Lené Lategan (200m – 31 sek)
Beste Junior Dogter Veld:
Lené Lategan (Spiesgooi – 30,54 meter)
Beste Senior Seun Baan:
Junior Mkhabela (100m – 11,3 sek)
Beste Senior Seun Veld:
Anrich Basson (Skyfwerp – 49,52 meter)
Beste Senior Dogter Baan:
Inneke Mulder (100m – 14,1 sek)
Beste Senior Dogter Veld:
Ankebe Els (Hoogspring – 1,50 meter)
Beste Dogtersatleet van die dag:
Lené Lategan (Spiesgooi – 30,54 meter)
Beste Seunsatleet van die dag:
Anrich Basson (Skyfwerp – 49,52 meter). Anrich is ook as die Atleet met die Beste Enkelprestasie van die dag aangewys.
Atlete wat 800 of meer punte op die Absa 2007 puntetabel verdien het:
Ankebe Els: Hoogspring o/19 – 1,5m – 809 punte; Edward Tereblanché: Verspring o/14 – 5m – 802 punte; Chanel Fouché: Skyfwerp o/14 – 28,33m – 802 punte; Anrich Basson: Skyfwerp o/17 – 49,52m – 864 punte; Lené Lategan: Spiesgooi o/14 – 30,54m – 825 punte; Dihann Pretorius: Spiesgooi o/19 – 59,44m – 822 punte.