Ds Tienie: Beurtkrag – vertoning halfuur later
Mense wat die filmvertoning van Dominee Tienie misgeloop het, kry op 15 Februarie weer geleentheid om dit wel te kan sien. As gevolg van Beurtkrag vanaf 17:00 tot 19:30 sal die vertoning ‘n halfuur later, om 19:30 begin. Kom steeds vroegtydig en pak solank die piekniekmandjes uit in kerslig.
Nog ‘n film wat baie populêr was waar daar ook verskeie versoeke was dat dit weer vertoonn moet word is die immergewilde Sound of Music uit die sestiger jare met Julie Andrews as Maria, die non wat as goewernes van die Von Trapp kinders tydens die Tweede Wêreldoorlog by die gesin beland.
Kom herleef gerus weer op 16 Februarie, tydens die oggendvertoning, die ou bekende liedjies soos Lonely Goater, ABC, Climb every Mountain, Maria en al die ou treffers uit hierdie musiekblyspel.
Dominee Tienie wat op 25 Januarie by die KunsteGrot op Thabazimbi vertoon is, was so gewild dat baie mense wat die vertoning nie kon bywoon nie, versoek het dat die film weer gewys moet. Die KunsteGrot se klank en grootskerm maak dit ‘n spesiale fliek-ervaring.
Alhoewel die film sy vermaaklikheids apsek het, laat dit mens tog stof na nadenke oor die rol van predikante in die vinnig veranderde wêreld.
Die tema is die dalende kerkbywoning getalle, ’n tendens wat wêreldwyd merkbaar is.
Dominee Tienie, gespeel deur Frank Opperman, moet onder hierdie omstandighede sy selfvertroue terugkry as hy weer die ligstraal wil wees wat hy voorheen vir almal om hom was.
Frank speel die rol van dominee Tienie net so oortuigend as wat hy die oorspronklike eenmanvertoning, wat deur Dana Snyman geskryf is, vertolk het.
As Afrikaanse predikant wat die pad byster geraak het en nie meer weet waar hy in die moderne samelewing waarin hy hom bevind pas nie, word dominee Tienie hiermee na 16 jaar diens in die moedergemeente gekonfronteer.
Tienie wonder of predikante nog ’n rol het om in vandag se wêreld te speel. En het die kerk nog ’n rol om te speel?
In sy pogings om by die veranderinge aan te pas word Tienie van sy vrou en kinders vervreem. Na ’n voorval met ’n sterwende swerwer bevind dominee Tienie hom by ’n kruispad.
Sal hy weereens sy selfvertroue herwin en sy gesin se liefde terugwen, en is hy dapper genoeg om sy gemeente in hierdie nuwe era te lei?
Met sielkundiges, psigiaters en huweliksberaders waarheen mense gaan, is die predikant nie meer die eerste persoon waarheen lidmate hulle wend as hulle probleme het nie. Nog meer rede vir hom om sy roeping te bevraagteken. Sy eie middeljarekrisis begin hom boonop ook in die gesig staar.
Kom geniet die aand saam en pak gerus jou piekniekmandjie vir ’n gesellige fliek-aand.
Die film word Vrydag 15 Februarie om 19:30 vertoon terwyl die Saterdagoggend se vertoning van Sound of Music om 10:30 begin. Bring gerus vir ouma en oupa saam – Seniors fliek gratis.
Toegang beloop R50 per persoon.
Kyk na die lokprent: https://www.youtube.com/watch?v=HexUGxRnIEw