DA: ANC onbevoeg om mosie van onteiening sonder kompensasie te hanteer

Alle regdenkende mense moet besef dat indien die mosie om die verandering van die spesifieke wet soos omvat in die grondwet om onteiening van eiendom sonder vergoeding wel in die parlement deurgevoer word, dit Suid-Afrika in totale wanorde gaan dompel met sy ekonomie wat totaal in duie gaan stort.

Die groot rede hiervoor is die feit dat eiendomsreg die enigste voorbehoud vir ekonomiese groei is.
Dit is egter nie soos dit in werklikheid deur die EFF voorgehou word nie, met hulle stelling dat die mense eenvoudig moet grond kry nie. In werklikheid beteken dit nie dat dit private eiendomsreg of te wel kaart en transport van die eiendom insluit nie, maar dat die staat al die eiendom moet besit en dit na goeddunk onder die landsburgers verdeel.

Die DA het hierdie feit duidelik tydens ’n vergadering Maandagoggend by Thaba Park in Thabazimbi uitgelig toe die DA-skaduminister oor Grondsake Tandeka Mbabama en dr Annelie Lotriet, DA lid op die Grondwetlike Hersieningskomitee, inwoners toegespreek het oor die onderwerp en hoekom dit van die uiterste belang is dat landsburgers hul stem moet laat hoor tydens die komende sittings wat landwyd hieroor gedurende die komende twee maande gehou gaan word.

Hier is dit nie alleen noodsaaklik dat petisies onderteken word nie, maar dat persoonlike vertoë ingehandig moet word oor hoe dit jou as persoon gaan raak en hoekom dit nie deurgevoer moet word nie.

Sedert 1994 is daar aangedring op herstel van eienaarskap van eiendom wat voorheen aan swart, bruin en Indiër mense behoort het. Daar is dan ook ooreengekom op die beginsel van gewillige verkoper – gewillige koper – teen ’n markverwante prys.

Nie baie grond het hande verruil nie hoofsaaklik te wyte aan die feit dat die ANC nie werklik hulself verbind het aan hervorming nie en daar ook geen noemenswaardige bedrae hiervoor begroot is nie. Dit is steeds die geval met slegs sowat 0,14% van die nasionale begroting wat hieraan toegewys is.

Nie een van die vorige skemas, SLAG, LRAD of CASP het noemenswaardige verskil gemaak nie. Die enigste was PLAS waar die regering aktief grond begin aankoop het. Die DA het nog nooit hiermee saamgestem nie aangesien dit maar net die begin is van nasionalisering van eiendom.

Die impak van onteiening sonder vergoeding sal verskeie negatiewe implikasies hê. Hieronder is toename in armoede en werkloosheid seker die belangrikste.

Die onvermoë om die hervorming van eiendomsreg positief deur te voer het as gevolg van ’n hele reeks redes misluk.
‘n Groot rede is die feit dat die ANC met korrupsie deurspek is en traag is om iets daadwerkliks hieromtrent te doen.

Die amptenare wat aangestel is daarom deur te voer was nie net onbekwaam nie, maar ook onbevoeg om hulle werk te doen.

Daar was geen voorsiening gemaak vir mentors om die nuwe eienaars van plase wat aan die werkers oorgedra is leiding te gee oor hoe om die boerderye te bedryf nie.

Die nuwe eienaars het geen toegang tot markte gehad nie asook tot kredietfasiliteite en basiese dienste soos water en elektrisiteit nie.

Die bates is nie altyd aan die nuwe eienaars oorgedra nie, maar hoofsaaklik was dit die ANC meelopers en kaders wat finansieel hieruit gebaat het.

Me Mbabama het dit duidelik gestel dat daar geen manier is dat die DA hierdie voorgestelde wysiging aan die Grondwet kan steun of regverdig nie. Een saak wat in gedagte gehou moet word, is die feit dat dit die reg aan die regering gee om enige eiendom van hul keuse sonder vergoeding te onteien.

Dr Annelie Lotriet het die eienaar-klousule, artikel 25 van die wet verduidelik soos dit huidig lees. Hier moet ook duidelik onderskeid gemaak word tussen die terme ontneming, wat die eienaar die reg ontneem of beperk om sekere bedrywe op sy eiendom toe te laat maar waar die eienaar steeds eiendomsreg daarop besit, teenoor onteiening van eiendom wat slegs kragtens die algemene wet in publieke belang gedoen kan word met vergoeding sonder voorkeur aan die persoon soos ooreengekom of deur ’n hofbevel bepaal word.

Die EFF en ANC wil die kompensasie- of vergoeding-gedeelte van die artikel verwyder.

Sy het ook daarop gewys dat die algemene indruk geskep word dat dit net op landelike eiendom van toepassing is, wat glad nie die geval is nie. Hierdie onteiening sonder vergoeding sal ook van toepassing wees op jou privaat besigheid, woonhuis, meubels, motorvoertuig en alles wat jy besit, insluitend beleggings en aandele. Hierdie bepaling is reeds in die wet in sy huidige vorm ingeskryf.

Sy het genoem dat president Cyril Ramaphosa het ooglopend tot die verandering in die grondwet ingestem om die populêre stem te verkry om as president verkies te word.

As sakeman het hy nie besef in wat se byenes hy sy kop gesteek het nie. Juis hý veral moet besef dat privaat eiendomsreg noodsaaklik is vir ekonomies groei en alles wat huidig deur die wet beskerm word vir hierdie ekonomiese groei kan nou deur die staat onteien word, iets waarvan die meerderheid van die EFF ondersteuners onbewus van is aangesien hulle geen benul daarvan het hoe ekonomiese groei en rykdom geskep word nie.

Al word die mag nie direk deur die regering uitgeoefen nie, is die wetgewing daarop gemik om die Departement van Grondsake en Ontwikkeling die mag te gee om uit te voer en daardeur nog meer geleenthede vir selfverryking vir ’n uitgesoekte groepie individue te skep.

Met die huidige wet moet verbande en alle uitstaande skulde teen die eiendom eers afgelos word voordat die eiendom onteien mag word. Indien die nuwe verandering van geen kompensasie deurgevoer word sal banke ondergaan aangesien hulle hul sekuriteit wat verleen is teen verbande en lening verloor en die eienaar van die eiendom sy reg op behuising verloor en daarmee saam sy hele bestaan waarvoor hy gewerk het.

Munisipaliteite sal in dieselfde posisie wees aangesien belasting op die eiendom nie betaal gaan word nie met die staat as eienaar. Dieselfde gaan vir dienste wat nie meer gelewer kan word as gevolg van gebrek aan inkomste.

Met die eiendom veilig in die hande van die staat verloor die vegters vir verandering van die wet juis alles waarvoor hulle geveg het.

Hulle sal steeds van die titelaktes van die eiendom weerhou word en daarmee saam die reg om sy eiendom as kollateraal aan te bied indien hy eendag so ver sou dink om te sorg dat sy kinders kollege of universiteit onderrig ontvang om hulle in ’n beter posisie vir ’n beter werk te plaas as die situasie waarin hulle hulself tans bevind.

Intussen is daar werklike probleme wat meer aandag behoort te geniet waarvoor ’n ommekeer in die stelsel voorrang geniet. Hierdie strategie maak uit van die DA beleid ten opsigte van herverdeling van eiendom.

Sover dit stedelike hervorming aan betref is daar die talle plakkerskampe om die stede wat in behoorlike huisvesting omskep moet word. Die DA het reeds voorsiening hiervoor in hul beleid gemaak en daarmee saam om toe te sien dat die bewoners titel aktes op hul eiendom bekom, al is dit ’n eenvoudige RDP huisie.

Voldoende voorsiening moet in die begroting gemaak word om te verseker dat alle wettige eise op eiendomme suksesvol afgehandel word.

Sover dit plattelandse transformasie aan betref is die DA ten gunste van privaat inisiatief om gesamentlike ondernemings te begin waar boere hulle werkers as deel-eienaars betrek om as ’n klein geslote gemeenskap met hulle eie skool en ontspanningsgeriewe die eiendom saam verder te bewerk. Dit word reeds suksesvol gedoen op verskeie plase.

Die staat sit met duisende hektaar grond, oorblyfsel van die tuislandbeleid wat beskikbaar is om aan kwalifiserende burgers toe te ken. Die stelsel van stamhoofde is hier ’n wesenlike probleem wat opgegradeer moet word.

Eerstens moet verseker dat die regte persone met die regte kundigheid en vaardigheid aangestel word om die werk te doen.
Mentors moet aangestel word om die nuwe boere oop te lei en by te staan.

’n Begroting moet in plek wees om die verskillende modelle te finansier.

Voorsiening moet gemaak word om nuwe tegnologie aan te wend.

Alle staatstoegifte moet deur die Land- en Landbou Ontwikkelingsbank gekanaliseer word om te verseker dat die finansies aangewend word vir dit waarvoor dit bedoel is.

Desiree van der Walt, DA Parlementslid, het ten slotte daarop gewys dat onteiening sonder kompensasie totaal onprakties is om uit te voer juis weens die meeste eiendom waar verbande teen hulle geregistreer is.

Nieteenstaande dit moet Julius Malema van die EFF en die ANC ernstig opgeneem word aangesien hulle glad nie die gevolge van hierdie aksie in ag neem nie. Elke inwoner van die land is nou betrek om daarteen op te staan.

Indien die wet gewysig word, is daar geen verskansing oor nie aangesien die grondwet as die oppergesag dit onderskryf.

Selfs die wêreldhof sal niks hieraan kan doen nie, daarvoor hoef mens maar net na die situasie in Zimbabwe te kyk.

Hierdie verandering sal opgevolg word met die nasionalisering van letterlik alles, selfs die finansiële instansies.

Met eiendomsreg as basis vir ekonomiese groei wat weggeruk word sal die totale ekonomie van Suid-Afrika in duie stort.

DA Vergaderin 21 Mei Feature
Op die foto is die DA afgevaardigdes saam met die DA-raadslede van Thabazimbi Munisipaliteit na afloop van die inligtingsvergadering wat Maandag 21 Mei op Thabazimbi gehou is. Hulle is van links: Raadslid Bertie Joubert (Speaker), dr Annelie Lotriet (DA lid op die Grondwetlike Hersieningskomitee), me Tandeka Mbabama (DA-Skaduminister oor Grondsake), me Desiree van der Walt (DA-LP), raadslid Piet Strydom (Hoofsweep) en raadslid Thane Hearne.