General

64 Sterf in brand in Russiese winkelsentrum

Ten minste 64 mense is dood toe ‘n brand Sondagmiddag in die groot Winter Cherry inkopiesentrum in Siberië in die Russiese steenkoolmyndorp Kemerovo uitgebreek het.

Die brand het op die boonste verdieping waar die bioskoopsale, ‘n trampoliensaal en kegelbane volgepak was met veral kinders, uitgebreek.

Dit het later geblyk dat die brand-uitgange geblokkeer was en dat kinders na bewering deur sommige Sentrum beamptes verhoed is om met die trappe na onder te beweeg.

Volgens berigte het die brand in die trampoliensaal uitgebreek en was daar geen brandalarm wat afgegaan het nie. Die brandbestreidingstoerusting wat veronderstel was om die brand te blus het blykbaar ook nie gewerk nie.

Daar was ook geen georganiseerde aksie om die mense uit die brandende gebou te kry nie.

Talle mense is vermis terwyl plaaslike onderwysers hulle leerlinge wat met vakansie was en dalk in die gebou tydens die brand was, probeer opspoor het.

Volgens die Russiese media het die gebou se dak ineengestort en die trampoliensaal en bioskoopsale in vlamme gehul.