2013 Matrieks: HFM Presteer uitsonderlik

2013 Matrieks: HFM presteer uitsonderlik

THABAZIMBI – Die 181 Graad 12 leerders van Hoërskool Frikkie Meyer van 2013, ingesluit die vyf leerders van Bosveld Akademie wat in April by HFM ingeskryf is, het ‘n slaagsyfer van 98.33% behaal. Dit is die beste slaagsyfer in vyf jaar.

Hierdeur het HFM bewys dat die Akademie steeds die kernbesigheid van die skool is, terwyl die kultuur- en sportprestasies van 2013 ook skitterend was.

HFM is deur die Provinsiale Departement van Onderwys as die 20ste beste Hoërskool in Limpopo aangewys, op grond van die skool se Baccalaureus Graadstudie (Universiteitstoelating) uitslae.

Gedurende die Waterberg Graad 12 Toekenningsgeleentheid is Hester Erasmus vereer met ‘n sertifikaat en trofee vir die hoogste gemiddelde in Besigheidstudies met ‘n persentasie van 94%, terwyl Lize Badenhorst dieselfde toekennings ontvang het vir die vak Geskiedenis, met ‘n persentasie van 87%. Me Rianda van Rensburg (Besigheidstudies) en mnr Colin Campbell (Geskiedenis) word as vakpersoneel uitgesonder.

Die belangrikste vakpersentasies kan opgesom word as: ‘n Totaal van 154 vakonderskeidings (A-simbole), 209 B-simbole, 310 C-simbole en 253 D-simbole. Die Departement Engels het die beste onder die vakke gevaar met 22 onderskeidings in Engels First Additional Language. Me Margaret Jacobs (HOD) en me Annemie de Witt, die vakpersoneel, word in besonder geluk gewens met die prestasie.

Die volgende vakke het ‘n 100% slaagsyfer behaal: Afrikaans Huistaal (me F Coetzee/mnr J van Rensburg), Afrikaans EAT (me F Coetzee), English FAL (me M Jacobs/me A de Witt), English HL (me A Jordaan), Elektriese Tegnologie (me S van der Linde), Geografie (mnr F du Toit), Geskiedenis (mnr C Campbell), Gasvryheidstudies (me L Marais), Inligtingstegnologie (mnr T le Roux), Lewensoriëntering (me N Booysens/me C Schoeman), Rekenaartoepassingstegnologie (me A du Plessis) en Toerisme (me C Swart).

Individuele leerderprestasies was aan die orde van die dag: 6 onderskeidings: Mariaan Kruger, 5 onderskeidings: Bealde Enslin en Dera van der Walt, 4 onderskeidings: Lize Badenhorst, Hester Erasmus, Jeanri Janse van Rensburg, Marnus Maré, Lanneo Nagel, Janri Pelser en Jolandi van Graan. 3 onderskeidings: 7 leerders, 2 onderskeidings: 11 leerders en 1 onderskeidings: 67 leerders.

Mnr Colin Campbell, hoof van HFM, bedank graag die ouers van die Klas van 2013 vir hul volgehoue ondersteuning en vertroue in HFM, die Klas van 2013 vir hul harde werk, waar elkeen volgens sy of haar potensiaal presteer het, die personeel van HFM – die sukses wat behaal is, is hoofsaaklik bereik deur gemotiveerde en hardwerkende onderwysers. “Baie geluk aan die Klas van 2013 en mag die Klas van 2014 hierop verbeter,” het mnr Campbell sy hoop uitgespreek.