6000km vir brawe Helgard

THABAZIMBI – Helgard Müller, die brawe man wat gedroom het om 6000km al langs die kuslyn met ‘n bergfiets aan te pak, se droom is op 1 September 2013 verwesenlik nadat hy in Kaapstad weggespring het en drie weke later in Thabazimbi aangekom het.

Helgard is nie sommer ‘n gewone bergfietsryer nie. Hy pak hierdie geweldige uitdaging aan met slegs een voet. Hy het sy linkervoet tragies op 22 September 2007 tragies verloor tydens ‘n ses weke werksaangeleentheid in Amerika, nadat hy in ‘n graansilo se dreineringsgat geval het.

Hy het ‘n liefde en passie vir fietsry ontwikkel gedurende sy lang pad na herstel en het al aan verskeie bergfietskompetisies deelgeneem.

In September vanjaar word hy die eerste persoon met ‘n geamputeerde ledemaat wat 6000km al langs die kuslyn van SA met sy fiets ry.

Sy doel met hierdie reistog is om aan mense wêreldwyd te bewys dat dit nie saak maak wat in jou lewe gebeur nie, jy is self verantwoordelik vir jou dade en denke. Daarmee saam sal hy uiteraard ander mense met geamputeerde ledemate inspireer met sy siening dat dit moontlik is om uit die as uit op te staan en weer voluit te lewe.

Die pad na herstel was ongelukkig ‘n lang, donker een wat veroorsaak het dat hy net ná sy tragiese ongeluk in ‘n diep put van depressie geval het. “Al wat ek kon sien, is hoe al die passies in my lewe – om aktief te wees, te reis en in die buitelug te wees – uit my lewe verdwyn. Dis asof die lont wat die vuur in my lewe aan die brand gehou het, uitgeblus is,” sê hy. “Iets in my het doodgegaan.”

Dit was eers toe Helgaard ‘n TV-program gekyk het oor twee Amerikaanse soldate wat albei hul arms en bene verloor het, dat sy oë oopgegaan het en hy besef het dat net hy sy gedrag en denke kan verander.

Ná ‘n besonderse reis na Egipte, sy deelname aan 2010 se Argus-fietstoer en verskeie bergfietskompetisies, het Helgard steeds gevoel dat dit nie genoeg is nie. Die droom om 6000km te reis al langs die kuslyn, is gebore. Hy samel hiermee geld in vir die Wes Kaapse vereniging vir mense met gestremdhede, want baie mense met gestremdhede het nie die geld om die korrekte toerusting te koop nie.

Die fietstoer het in Kaapstad begin vanwaar hy na Oranjemund in Namibië gery het. Hy het beoog om die toer binne drie tot vier weke te voltooi, maar reken ses weke is ‘n meer realistiese tydsduur. Helgaard het verlede Maandag, 23 September vanuit Thabazimbi na Lephalale vertrek. Maar sy reis is nog ver van klaar…

Besoek www.givengain.com of www.helgardmuller.com. Volg hom op Twitter by @mullerhelgard of Facebook (Helgard Muller Amputee Cyclist) om op die hoogte van sy reistog te bly.

40-Helgard Muller ww

Helgard Müller het in September die eerste persoon met ‘n geamputeerde ledemaat geword wat die 6000km al langs die kuslyn van SA met ‘n bergfiets aanpak.