Omset vir buffelveiling amper R16M
DWAALBOOM – Die jaarlikse Herholdt Game Breeders wildveiling het op Saterdag 22 Junie plaasgevind.
Die Herholdt-broers het uit hul pad gegaan om die diere netjies aan te bied en die kopers welkom te laat voel. ‘n Groot aantal belangstellendes het weereens die veiling bygewoon.
Vanjaar het mnre Pietman Fourie en Colin Engelbrecht van Potchefstroom opgetree as gasverkopers, wat ‘n aantal skaarswild op katalogus aangebied het. Per katalogus is slegs twee Zambiese kruis swartwitpensverse teen R250 000 elk verkoop.
Die Herholdts het weereens uitstaande Oos-Afrika buffels aangebied. Die diere wat verkoop is, het oor die algemeen goeie pryse behaal alhoewel ‘n paar buffels nie verkoop is nie, omdat die bodprys net laer as die verwagte prys was.
Die katalogus diere het maar, soos op die meeste veilings, nie die reserwepryse behaal, nie en is bitter min van verkoop.
Die hoogtepunte van die veiling was R4 500 000 vir ‘n sesjarige buffelbul, met ‘n horinglengte van 46¼”, asook ‘n buffelkoei met ‘n bulkalf wat vir R2 000 000 verkoop is. Dan was daar ook ‘n jong njalabul met ‘n 29” horing-lengte wat ook vir ‘n uitstekende prys van R38 000 verkoop is.
Die volgende gemiddelde pryse is behaal: Oos-Afrika buffelkoeie met kalwers (3+3) – R1 283 333; ‘n dragtige Oos-Afrika buffelkoei – R600 000, ‘n dragtige Oos-Afrika buffelvers – R879 000, Oos-Afrika buffelverse (8) – R318 750, Livingstone eland (6) – R9500 en 10 njalas teen R8750 elk. Die manlike diere het die volgende gemiddelde pryse behaal: ‘n njala – R38 000, jong swartwitpense (2) – R20 000, Oos-Afrika buffels (2) – R2 687 500 en een jong Oos-Afrika buffel teen R150 000.
Die totale omset was R15 972 500.
Mike Killassy was die afslaer.
Die Oos-Afrika buffelbul wat vir R4.5 miljoen verkoop is tydens die Herholdt Game Breeders veiling. Foto: Franco Loots.